Preekskets 16 Augustus 2020 Ds Jacques – Wat maak ‘n mens waarlik opreg voor God?


Matteus 15:1-20

Wat maak ‘n mens waarlik opreg voor God?  Wat is die toets?  Of is ons maar veronderstel om vrede daarmee te maak dat dit nie moontlik is nie en daarom maar so te leef dat ons voorgee om dit na te streef:  “Fake it till you make it”?  Hierdie vraag is egter ‘n uiters belangrike vraag aangesien dit oor ons ewigheid gaan.  Ons kan ligtelik hiermee besig wees of voorgee om so mense om die bos te probeer lei nie.

Verskillende motiverings kan bepaal hoe ons oor godsdiens dink.  As ons dink dat godsdiens daaroor gaan om deur mense raakgesien te word, om so te leef dat mense dink ons is baie oulik, sal dit ons uitleef van ons godsdiens bepaal.  As ons aan die ander kant dink dat godsdiens daaroor gaan dat ek iets daaruit moet kry, sal dit weer my siening en uitlewing van my godsdiens bepaal.  Die Bybel leer ons egter ‘n ander siening, ‘n ander manier van kyk.  Ons is veronderstel om by God stil te raak en uit te vind wat God van ons verwag.  Dit is waarom ons met godsdiens besig is.

Daar moet ‘n innerlike verandering in ons lewe plaasvind en dan moet dit tot ‘n uiterlike, sigbare uitlewing van ons nuwe oortuiging lei.  Die spreukwoord wat sê: “Wat die hart van vol is, loop die mond van oor” moet ons ingestelheid raak.  Ons hart moet vol wees van God se wil vir ons lewe en dan moet ons gedrag dit reflekteer.  Dit verander ons siening van godsdiens geheel en al.  Nou gaan dit nie meer oor die nakoming van menslike oorlewings of tradisies nie, maar oor die vasstelling van God se wil vir my lewe.  Ware opregtheid voor God is dan nie om wetties te leef nie, maar om God toe te laat om ons harte te besny, ons rein van hart te maak, om die vryspraak wat Jesus bied te aanvaar en daaruit te leef.  So ‘n lewe gaan dan oor tot ‘n hoër gebod, naamlik die gebod van God se liefde.  Alles word dan bepaal deur God se liefde vir ons lewe.  Daaruit word ons liefde vir God en vir ons naaste gebore.  Ons moenie God se liefdesbedoeling met die wet minag nie.  As ons dit besef verander ons hele siening van reinheid en opregtheid voor God.  Dit gaan dan nie daaroor om op ‘n sekere manier te leef omdat tradisie dit van ons vereis nie.  Dit gaan eerder daaroor dat opregtheid daarmee te make het dat ons God se wil van harte wil doen.  Ons is soekend na God se wil, om Hom in ons lewe raak te sien en dan by Sy betrokkenheid in te val.