Preekskets 6 September 2020 Ds Jacques – Hoe sterk is jy?


Teks:  Romeine 15:1-6

Liedere:  499:1,2   203:1,2   492:1,2

As ‘n mens oor krag of sterkte praat, is die eerste beeld wat moontlik by jou opkom iemand met ‘n gespierde liggaam.  Iemand wat die vermoë het om baie kilogramme gewigte op te lig en wat uitblink in een of ander fisiese sportsoort.  In vergelyking met metale is ‘n mens se liggaam egter glad nie sterk nie.  Daar is baie metale en masjiene wat baie sterker as ‘n mens se liggaam is en wat baie meer kan doen.

Dit is egter slegs een manier van dink oor krag of sterkte.  Daar is ook ‘n ander tipe, die tipe wat ‘n mens nie op die eerste oogopslag kan sien nie.  Dit is die krag of vermoë om krisisse of uitdagings te kan hanteer of om moeilike situasies te kan verdra.  Dit spreek van innerlike krag.  In hierdie geval gaan fisiese krag nie veel beteken nie. 

Godsdiens se doel is om God te aanbid, maar ook om in ‘n verhouding met God te leef.  Die Bybel leer ons hoe ons God kan leer ken en hoe ons in ‘n verhouding met Hom kan leef.  Dis wonderlik om hierdie verhouding te ervaar en dit gee ons dan ook die innerlike krag om te kan volhard en om die krisisse van die lewe te kan verdra.  Ons groei in ons verhouding met God en hierdie groei gee ons die vermoë om meer en meer te kan hanteer.

Hoe groei ‘n mens in jou geestelike lewe?  Die Bybel leer ons deur kennis van God en deur inskakeling by ‘n geloofsgemeenskap.  Dink maar net aan ‘n tamatieplant.  So ‘n plantjie groei baie maklik.  ‘n Paar pitte wat in die tuin geval het sal sommer gou ontkiem en begin groei, maar soos wat die plantjie begin groei, besef ‘n mens baie vinnig dat dit maar ‘n pieperige plantjie is.  Die wind verniel die takkies, die vrugte is te swaar vir die takkies.  Daarom is dit nodig om die plant te stut.  ‘n raamwerk moet voorsien word waaraan die plant geanker kan wees.  Dan kan die plant groei en vrug dra. Dit is presies soos wat dit met ons ook werk.  Ook ons as mens is nie so sterk soos wat ons dink ons is nie.  Ons kan nie in isolasie ontwikkel en groei nie.  Ons het ook ‘n raamwerk nodig wat ons stut en ondersteun.  Die raamwerk wat vir ons voorsien word is die verhouding wat om met die Here het en die ondersteuning van mede-gelowiges.  Ons deel in vreugdes en deel mekaar se laste.  Maak jouself oop vir ander, gee jouself vir ander en vertrou God in jou lewe.