Teks: Lukas 17:11-19
Liedere: 472:1,3 504:1,2 188:1,2,3
In die Bybelse tyd is siekte deur baie mense as ‘n straf van God gesien. Wanneer iemand siek geraak het, het die ander onmiddelik begin wonder: “Wat het hy dan aangevang waarvan ons nie weet nie?” Dink maar net aan die raad van Job se vriende wanneer hy in sak en as sit. Hulle het self ook gewonder wat hy gedoen het dat God besig is om Hom so te straf. Soos ons natuurlik weet is dit nie die manier hoe God werk nie. Hy is saam met ons in hierdie wêreld waarin ons leef en waarin ons aan allerhande siektes en ellendes blootgestel is.
Melaatsheid was een van die ergste siektes wat ‘n persoon kon tref. Dit was ‘n siekte wat veroorsaak het dat jy jou posisie in die samelewing en in jou gesin verloor het. Mense met melaatsheid moes in afsonderlik leef sodat hulle nie dalk ander mense met hierdie gevreesde siekte aansteek nie. Dit was ‘n skande en as ‘n doodsvonnis gesien.
In hierdie perikoop lees ons nou van 10 mans wat met melaatsheid leef. Hulle sien vir Jesus en roep uit na Hom om hulp. Hulle vra dat Jesus Hom oor hulle moet ontferm. Hulle is uitgeworpe, van God vervreemd en natuurlik baie ernstig siek. Soos in baie van die ander wonderverhale steur Jesus Hom nie aan die Levitiese wette nie, maar sien Hy die mense is nood raak.
Jesus luister na hul versoek en bring genesing. Deur Sy toedoen kan die persone hulself aan die priesters gaan toon en weer rein verklaar word. Met hierdie verklaring sal hulle kan terugkeer na hul gesinne en na die samelewing. Ons lees egter dat hulle al gesond geraak het nog voordat hulle by die priester aankom. Hulle sien hul hande is genees, dat die seerplekke herstel is. Slegs een van die 10 mans draai om om vir Jesus te gaan bedank vir wat gebeur het. Net Hy eer God vir sy genesing. Jesus sê dan ook aan hom of daar nie 10 mans was nie. Wat het van die ander geword? Was hulle dalk so haastig om rein verklaar te word en weer te kan terugkeer na hul ou lewe dat hulle heeltemal vergeet het wie is die een wat hulle daarvoor moet bedank? Die vraag uit hierdie verhaal wat ons moet beantwoord is: Hoe lyk ons dankbaarheid? Vergeet ons ook net so gou van wat Jesus vir ons gedoen het? Sê ons ook net 10% van die kere wat Hy vir ons sorg en ons gebede verhoor daarvoor dankie? Dalk is dit nodig dat ons weer na ons reaksie op Jesus se inwerking in ons lewe kyk en ons ingesteldheid rondom dankbaarheid te heroorweeg.