Teks: Lukas 9:37-43
Liedere: 146:1,4 155:1,2,3 167:1,2 293:1,3 288:1,2,3
Min dinge in die lewe kan met die liefde wat ‘n ouer vir sy kind het vergelyk word. Ouer liefde is iets besonders. Daarom kan ‘n mens verstaan waarom ouers soms histeries raak wanneer hul kind siek raak en hulle nie weet wat om te doen om die kind gesond te kry nie. ‘n Ouer se besorgdheid oor sy kind se welstand is besonders. Wanneer ‘n ouer dan alles in sy vermoë doen om die kind gesond te dokter en niks werk nie, raak so ‘n ouer radeloos van bekommernis.
In die verhaal in Lukas word daar vir ons van ‘n ouer vertel wat by so ‘n punt van radeloosheid gekom het as gevolg van sy kind se gesondheid. Sy kind word deur ‘n bose gees beheer. Wanneer die gees oorneem val die kind op die grond en skuim kom by sy mond uit. Die pa het alles gedoen en niks werk nie. Hy het self al die kind na die dissipels gebring vir hulp, maar ook hulle kon niks aan sy situasie doen nie.
In moedeloosheid bring die pa die kind nou na Jesus. In die verhaal sien ons twee dinge gebeur. Eerstens Jesus se vreemde reaksie wanneer Hy die aanhoorders berispe oor hul kleingeloof. Hy wil nie hê hulle moet Hom net as hierdie groot wonderwerker sien wat in hul lewe ingryp wanneer niks anders meer werk nie. Die pa het alle weë gevolg en toe niks werk nie word Jesus die laaste Een op wie hy sy vertroue stel. Jesus moet nou regmaak wat ander nie kon doen nie. Jesus wil hê die pa moet Hom as die eerste en enigste redder in sy lewe beskou. Hy moet net op Jesus vertrou, nie net vir sy seun se genesing nie, maar ook vir sy eie saligheid. Daarom berispe Jesus die mense.
Tog sien ons ook Jesus se teerheid en deernis met die pa en die seun. Hy genees hom en gee hom gesond aan sy pa terug. Jesus gee werklik om. Deur hierdie wonder word mense uitgedaag om Hom te sien vir wie Hy werklik is. Daarom dat hulle na die wonder verslae is oor die grootheid van God. Jesus daag ons vandag ook uit om verslae voor Sy grootheid te staan. Hy wil egter hê dat ons dit elke dag in ons lewe moet raaksien en beleef en daaroor moet juig, nie net wanneer ons vir ‘n wonder vra nie. Hy is die Seun van God. Erken Hom vir wie Hy is.