Preekskets 22 November 2020 Ds Jacques – Wees rein soos wat Jesus rein is


Teks:  1 Johannes 2:28-3:10

Liedere:  207:1,5  414:1,2   294:1,2,3   212:1,2,3

Die gemeente aan wie Johannes skryf het soos die meeste van die ander gemeentes van sy tyd verwag dat Jesus baie vinnig sou terugkeer.  Soos wat die weke maande raak en die maande jare, begin die gemeente moedeloos word.  Vervolging neem toe.  Die lidmate begin vrae vra:  Hoe lank moet ons nog wag?  Het ons apostels reg verstaan?  Is alles die moeite werd? 

Johannes versterk die lidmate deur hulle daaraan te herinner dat hulle aan Jesus behoort en dat daarom nie moet twyfel nie.  Die fokus moet op die einde wees en nie op die huidige nie.  Gelowiges moet altyd onthou dat hulle in die Here bly.  Dan sê Johannes sal julle gereed wees wanneer die Here weer terugkeer.  Dit wat hulle nou beleef kan nooit opweeg teen die groot beloning wat op die wat getrou bly wag nie.  Hou dus die oog daarop en laat dit jou in die huidige tyd en omstandighede motiveer.  Of anders, dink net hoe teleurgesteld gaan jy op daardie dag wees as jy nie gereed is vir die wederkoms van Jesus nie. 

Hier kan aan die 10 meisies gedink word wat op die bruidegom wag.  Vyf van hulle word as wyse meisies beskryf en vyf as dwaas.  Die wyse meisies het genoeg olie gehad om te kon wag totdat die bruidegom opdaag.  Hulle het selfs ekstra olie by hulle gehad om seker te maak dat hulle die heeltyd voorbereid en gereed was.  Die dwase meisies se olie het op geraak, want hulle was nie voorbereid nie.  Daarom moet elkeen wat aan Jesus behoort regverdig lewe.  Dit is die toets vir gereedheid.  Wees getrou en gehoorsaam aan God.  Dit maak jou nie ‘n kind van God nie, maar wees verseker dat jy in ‘n verhouding met God staan.  Hy noem ons Sy kinders en ons is dit nou reeds.  Dis nie ‘n belofte vir eendag nie.  Ons is dit nou!  En daarom motiveer dit ons om getrou te bly aan God.  Dit help ons om vas te byt in moeilike omstandighede.  Ongelowiges verstaan nie waarmee gelowiges besig is en waarom hulle optree soos wat hulle doen nie.  Daarom moet gelowiges mekaar op hierdie pad ondersteun.  Gelowiges se lewens is vir ongelowiges vreemd en abnormaal en dit moet ook so wees.  Dit dui tog op die andersheid.  Hou jou daarom rein soos wat Jesus rein was.  Moenie met tweede beste tevrede wees nie.