Preekskets 31 Januarie 2021 Ds Jacques – ‘n Les oor genade


Teks:  Lukas 18:18-30

In hierdie teks word daar ‘n besonderse man aan ons bekend gestel.  ‘n Jong man van groot aansien kom praat met Jesus.  Hy is suksesvol en voorspoedig in sy lewe.  In die opskrif van die perikoop en ook ‘n paar verse later word daar vir ons gesê dat hierdie man ook ‘n ryk man was.  Selfs op godsdienstige vlak is hy ‘n man wat alles volgens die letter doen.

Wanneer hy vir Jesus vra wat hy moet doen om die ewige lewe te beërwe, sê Jesus vir hom om die wette volgens die voorskrifte van die godsdiens te gehoorsaam.  As hy dit hoor is hy onmiddelik baie dankbaar.  Dis vir hom glad nie ‘n probleem nie, want dit doen hy absoluut pligsgetrou vanaf sy geboorte. 

Sy definisie van sukses is heel eenvoudig en op alle gebiede van sy lewe pas hy hierdie beginsel toe:  Harde werk en toewyding lei tot sukses.  Hy voel en glo dat dit presies net so op godsdienstige gebied werk.  En nou is hy baie dankbaar om te hoor dat Jesus hierdie saak aan hom bevestig. 

Nou verander die verhaal egter heeltemal.  Jesus sê vir hom dat hy baie trots kan voel op wat hy al alles in die lewe bereik het, ook op godsdienstige gebied.  Een ding kom hy nou nog net kort.  Verkoop alles en gee alles weg.  Kom dan en volg Jesus.  Hiervoor sien hy natuurlik glad nie kans nie.

Dan kom die les in hierdie verhaal.  Die dissipels sê vir Jesus dat hulle nie verstaan wat hier aangaan nie.  As dit die vereiste is kan niemand dit maak nie.  Dan die les.  Dit is presies die punt.  Niemand kan dit maak nie.  Daar is geen manier dat ‘n mens iets kan doen of vir God kan bied om die ewige lewe te beërwe nie.  By mense is dit inderdaad onmoontlik, maar wat by mense ontmoontlik lyk is vir God moontlik.  Om die ewige lewe te beërwe moet daar eers tot hierdie besef gekom word.  Dan is ‘n mens eers in ‘n posisie om Hom te volg.  Die vraag van die jong man is daarom verkeerd.  Hy moet nie vra wat hy moet doen om die ewige lewe te beërwe nie.  Hy moet eerder vir Jesus vertrou en volg en dan vra wat hy nou moet doen omdat hy die ewige lewe ontvang het.   Dit is wat dissipelskap en navolging beteken.  Gee oor, vertrou Jesus en volg Hom op Sy voorwaardes.