Teks: 2 Konings 2:1-15
Liedere: 475:1,2 354:1,2 466:1,2,3
Die tyd het aangebreek dat Elia se bediening op aarde moet eindig. Alhoewel die Here wonderlike dinge deur hom gedoen het, was die laaste jare van sy bediening nie lekker of maklik nie. Onder die heerskappy van koning Agab het die volk afvallig geraak soos nog nooit tevore. Baie konings het voorheen afvallig geraak van die Here, maar daar was niemand wat die Here so uitgetart het soos Agab.
Hy trou met ‘n uitlandse vrou. Sy is ‘n Baal aanbidder. Hy begin om hierdie afgod saam met haar te aanbid. Hy laat ‘n altaar vir hierdie afgod in Samaria bou. Gewyde pale word opgerig. Elia kondig ‘n droogte in die land aan. Dinge raak so erg dat Elia die Baal profete in die openbaar uitdaag om so God se mag as ware God teenoor die nuttelose afgod te toon. Na hierdie gebeurtenis moet Elia vir sy lewe vlug. Hy gaan sit onder ‘n besembos in die woestyn en wens dat hy eerder moet doodgaan.
Op hierdie moment is dit vir hom baie moeilik om te verklaar dat God in beheer van die wêreld is. In sy omstandighede lyk dit net nie vir hom moontlik nie. En tog het God nog ‘n plan en ‘n toekoms vir Israel. Alhoewel Elia dit nie noodwendig gaan sien gebeur nie, moet hy gehoorsaam wees en die opdrag wat die Here aan hom gee uitvoer. Sy opdrag is om Elisa as die nuwe profeet op te lei en ‘n nuwe koning te salf. God het reeds ‘n plan vir die toekoms.
In hierdie teksgedeelte word die laaste minute van Elia se lewe op aarde beskryf. Hy word op ‘n wonderbaarlike manier die hemel ingevoer. Elisa besef watter groot verantwoordelikheid op sy skouers rus en hy het beleef hoe moeilik Elia se lewe onder die druk wat hy moes verwerk was. Daarom wil hy eers nie vir Elia laat gaan nie. Wanneer die tyd aanbreek en hy besef dat hy die afskeid nie verder uitgestel kan word nie, vra hy vir ‘n dubbele deel van Elia se gees in sy lewe. Dit word aan hom gegee en wanneer hy Elia se mantel neem en so ook wys dat hy die verantwoordelikheid wat daarmee saamgaan neem, begin God ook deur hom werk. Die rivier maak vir hom oop en die ander profete erken hom as die aangewese een. Voel jou lewe op die oomblik ook heeltemal buite beheer? Voel jy om ook soos Elia onder ‘n bos te gaan sit en te sê, genoeg is nou genoeg? Dalk wil God juis nou met iets nuuts begin. Dalk moet jy ‘n rol daarin speel. Vertrou hom en glo dat daar altyd saam met hom ‘n nuwe toekoms is.