Teks: 2 Korintiërs 13:1-11
Liedere: 391:1,2,4 393:1,4 395:1,2,3 396:1,3,4
Min mense hou daarvan dat ander hulle foute uitwys. Wanneer iemand jou konfronteer sal jy veel eerder probeer om jouself te veronskuldig, ander blameer of jouself probeer regverdig as om te erken dat jy verkeerd was. Mense wat in rehabilitasie sentrums werk sê dis basies ‘n saak van onmoontlikheid om mense te help as hulle nie eers verklaar dat hulle ‘n probleem het en hulp nodig het nie. In ons geestelike lewe werk dit ongelukkig ook net so. Ons moet ook voor God staan en erken dat ek nie verder met my lewe kan aangaan soos wat ek tans leef nie. Ek het ‘n probleem. Ek het hulp nodig. Dan eers is daar ‘n kans vir verbetering en verandering.
Met die 7 weke van lydingstyd spieël ons ons lewe voor God se Woord en voor die kruis. Niks sal egter verander as ons nie met die ingesteldheid leef dat ek eintlik nie verandering nodig het nie. Ek moet daar kom staan met die oortuiging dat God my kan en wil verander, en ek moet erken dat ek dit innig nodig het. Ek moet voor God kom staan en vra wat God se doel met my lewe is, wat daar is wat verhoed dat die doel verwesenlik word en hoe God my gaan verander om dit te kan doen?
Wanneer ek so kom staan erken ek dat ek voor Jesus swak is. Ek erken my tekortkominge en gebreke. Ek erken my foute. Ek verklaar dat ek nie volmaak is nie en ook nooit sal wees nie. Maar ek verklaar ook dat ek met Sy ondersteuning, met Jesus aan my sy, ‘n kragtige lewe kan leef. Nie omdat ek so oulik is nie. Juis omdat ek dit nie is nie, maar met die krag van Jesus tot my beskikking, deur te leef met Sy krag in my, met Sy hulp en ondersteuning, kan word en wees wat Hy van my vra. Wanneer ek so voor Hom staan en my eie swakheid erken, antwoord Hy my deur te sê dat ek nie nodig het om alleen aan te sukkel nie. Ons kan vermag wat God van ons vra, maar dan moet ons besef dat waarheid nie in onsself lê nie. Sy waarheid moet sentraal staan in ons lewe en ons moet vanuit hierdie waarheid leef. Ons moet met Sy hulp streef na geestelike volwassenheid. Daarom moet ons vermaning aanvaar as deel van die groeiproses. Ons moet besef dat ons eensgesind saam met ander gelowiges moet leef. Ons moet streef om in God se vrede te leef en Sy liefde te ervaar. Kom ons streef hierdie Lydingstyd daarna om Hom nuut te leer ken.