Teks: Ef 1:15-23
In hierdie teks is Paulus besig met ‘n baie belangrike gebed vir gelowiges. Hy bid vir gelowige mense, wat Jesus reeds ken, maar wat verseker nog nie alles weet van wat dit behels om ‘n navolger van Jesus te wees nie.
Hy begin sy gebed deur God te dank vir hierdie mense se geloof. Dis vir hom die belangrikste rede vir sy dankbaarheid, naamlik dat hulle Jesus ken. Hulle is deur Jesus vergewe. Nou moet hulle veranderde lewens leef en as getuies vir Jesus optree.
Om dit te kan doen, bid Paulus vir hulle vir wysheid. Ons as gelowiges moet besef dat ons nie skielik met ons bekering alles van God weet en alles wat Hy van ons verwag weet nie. Op daardie dag begin ons geloofsreis. Ons moet stil raak by God se voete en fyn na Sy stem luister. Ons moet meer en meer word soos Jesus.
Paulus bid dat Jesus Hom volkome aan ons sal openbaar. Hy bid dat ons Jesus volkome sal ken. Deur Sy Woord, deur Sy Gees, deur mede-gelowiges, openbaar Hy Hom aan ons. So groei ons geestelik en word al meer wat ons in Hom moet wees.
Paulus bid dat ons geestes-oë sal verhelder. Net soos wat ‘n mens ‘n 3D-bril nodig het om ‘n 3D-film se beeld te kan sien, het ‘n mens nodig dat jou geestes-oë moet verhelder sodat jy Jesus se werking in jou lewe kan beleef. Hy bid dat ons sal weet dat God betrokke is in ons lewe. Dat ons oë so sal verhelder dat alle vorme van twyfel sal verdwyn.
Daar is dan drie dinge wat Paulus hoop sal gebeur om gelowiges te help om te weet. Hy bid eerstens dat gelowiges sal besef watter hoop God se roeping inhou. Hy bid tweedens dat gelowiges sal beleef watter rykdom daar in die heerlike erfenis is wat God vir ons skenk. Derdens bid hy dat gelowiges die krag sal ervaar wat Jesus in gelowiges uitstort. Dit is dieselfde krag waarmee Jesus uit die dood opgewek is en waarmee Hy na die hemel opgevaar het. Gelowiges ontvang die Gees van God, en
saam met dit die krag van die Gees van God. Pinkstertyd herinner ons daaraan, aan wat ons ontvang het en wat tot ons beskikking is. Stel uself in hierdie Pinkstertyd oop. Maak uself ontvanklik vir wat God u in hierdie tyd wil leer. Dalk word u net verras as u geestes-oë verhelder word en u God se betrokkenheid in u lewe en in die wêreld sien en beleef.