Teks: 1 Petrus 1:10-25
Liedere: 158:1,2,3 260:1,8 260:7,10,11
Die gemeente aan wie Petrus in hierdie brief skryf begin die druk van ongelowiges intens ervaar. Die gemeenskap beleef die gelowiges as vreemdelinge en tree al meer aggressief teenoor hulle op. Die prys van vreemdelingskap begin vir hulle te veel raak. Aan die een kant kon daar gelowiges wees wat vir hulself begin sê dat dit net nie meer die moeite werd is om met hul geloof voort te gaan nie. Aan die ander kant is daar weer die wat kan dink dat hulle dalk die reg in hulle eie hande moet neem en geweld met geweld beveg.
Petrus gee egter vir die gemeente ‘n ander perspektief. Hy herinner hulle daaraan dat hulle moet onthou wat die redding wat Jesus vir gelowiges bring vir ‘n mens beteken. Hy herinner hulle aan die geloofswaarhede waarop hulle hul vertroue geplaas het. Daarom moet hulle nie toelaat dat die omstandighede waarin hulle tans verkeer hulle verblind vir dit wat hulle in Jesus ontvang het nie. Hulle moet vashou aan Jesus, Hom bly eer en deur hul optrede eerder as getuies vir die ongereddes optree as om deur hulle ontmoedig te word om aan te hou glo.
Dus moet hulle seker maak dat hulle verstandelik wakker en nugter bly. Dit sal hulle help om te volhard. As jy net na die omstandighede kyk word jy moedeloos, maar as jy na die Een kyk op wie jy jou vertroue stel en wat vir jou sekerheid in die lewe gee, kan jy bly volhard.
Hy herinner hulle daaraan dat hulle moet vashou aan die beloftes van God. Hulle het hoop wat gevestig is op die genade van Jesus. Dis soos ‘n bergklimmer wat moeg raak, maar steeds vashou aan die tou wat sy lewenslyn is. As hy laat los val hy hom te pletter, maar as hy vashou en uithou sal hy die kruin bereik. Daarom moet gelowiges hul volle vertroue op God plaas. In die praktyk beteken dit dat gelowiges geroep word om ‘n heilige lewenswandel te toon. Ons is natuurlik nie engele nie, ons raak moeg en moedeloos, ons doen ook dinge wat nie reg is nie. Maar tog is ons strewe na ‘n heilige lewe, ‘n lewe gekenmerk deur eerbied vir die Here. Dit maak dat ons vreemdelinge in die wêreld is. Daarom moet of kan ons teenkanting verwag, maar die belofte bly altyd dat hierdie teenkanting slegs tydelik is. Ons is op pad na die ewigheid. Dit maak dat ons steeds kan bly volhard.