Preekskets 22 Augustus 2021 Ds Jacques – Ons is genooide gaste


Teks:  Lukas 14:15-24

Liedere:  396:1,2,3   296:1,2   253:1,2   384   390:1,2,3,4

In die gelykenis word daar vertel dat ‘n gerekende man in ‘n dorp ‘n weelderige ete vir uitgesoekte gaste aanbied.  Die idee word geskep dat hulle almal oorspronklik aantoon dat hulle die ete sal bywoon.  Wanneer die dag van die ete egter aanbreek skitter hulle almal in hul afwesigheid.  Die eienaar stuur dan boodskappers uit om te gaan hoor waarom hulle nie vir die ete opgedaag het nie.  Dalk het die uitnodiging verkeerde datum of tyd aangedui. 

Wanneer die boodskappers egter by die gaste aankom hoor hulle dat die gaste presies weet wanneer die ete sou plaasvind, maar dat hulle bloot net nie lus was om dit by te woon nie.  Elkeen bied ‘n ander verskoning aan waarom hulle nie op hierdie tyd by die ete kan wees nie.  Grond moet bewerk word, nuwe osse moet getoets word en daar is selfs een persoon wat laat weet dat hy tans op wittebrood is na sy troue.

Die boodskappers gaan terug na die eienaar en dra die verskonings aan hom oor.  Dit maak hom baie kwaad.  In die soortgelyke verhaal in Matteus 22:1-10 word daar gesê dat dit die koning was wat ‘n bruilofsmaal vir sy seun gehou het.  Daar word hy so kwaad dat hy sy weermag uitstuur om die mense om die lewe te bring en hul stede af te brand.

Die eienaar stuur weer sy boodskappers uit, maar hierdie keer met ‘n oop uitnodiging aan enige iemand wat die ete wil bywoon.  Onwaarskynlike gaste kry die geleentheid om in die gasheer se tuiste in te kom en aan die feesmaal deel te neem:  Kreupeles, blindes, gestremdes, dowes….almal is welkom.  Wanneer die eienaar sien dat daar steeds plekke beskikbaar is stuur hy weer sy boodskappers uit om op die paaie te gaan kyk of hulle reisigers kan opspoor om ook te kom saam eet, want sê die eienaar my huis moet stampvol wees wanneer ons fees vier.  Vers 15 sê vir ons:  “Gelukkig is die een wat aan die maaltyd deelneem”.  Gelukkig is die een wat besef dat geen prioriteit in ons lewe belangriker kan wees as om aan die feesmaaltyd van God se koninkryk deel te neem nie.  Wat besef dat ek eintlik nie verdien om by die ete te mag wees nie, maar as gevolg van Sy ongelooflike liefde en genade vir my word ek ingenooi en soos ‘n eregas hanteer. Ons het almal by die nagmaalstafel opgedaag.  Gelukkig is ons wat hieraan deel mag hê.