Preekskets 19 September 2021 Ds Jacques – Aan nederiges gee Hy genade


Teks:  Jakobus 4:1-10

Liedere:  188:1,2,3  209:1   212:1,2   167:1,2

Jakobus kyk om hom rond en besef dat die wêreld maar ‘n lekker deurmekaar plek is.  Mense stry en baklei onder mekaar, mense begeer dit wat ander besit en mense is oneerlik met mekaar.  Ongelukkig sien hy dat dit nie net kenmerke is van mense wat buite die gemeente staan.  Selfs gemeentelede toon hierdie kenmerke.  Dan vra hy homself die volgende vraag af:  Waar kom al hierdie stryd vandaan?

Hy kom tot die gevolgtrekking dat dit alles uit selfsugtige begeertes gebore word.  Selfsug beteken tog maar net dat jy alles vir jouself wil hê.  As iemand anders iets het wat jy nie het nie, of iemand anders se lewe lyk vir jou meer voorspoedig as jou eie, begeer jy dit.  En indien jy dit nie kan kry nie, raak jy lelik teenoor daardie persoon. 

As hy dan verder oor die saak dink sê hy dat dit eintlik nie die werklike probleem is nie.  Dit is slegs die gevolg van ‘n veel groter probleem.  Hierdie kenmerke word sigbaar omdat mense se harte deur ‘n verkeerde ingesteldheid gedryf word.  Volgens hom is mense se prioriteite verkeerd.  Ons mense toets ons lewe aan wêreldse maatstawwe.  Wat sien die wêreld as sukses?  Wat moet ek alles besit voordat ek uit die oogpunt van die wêreld sukses gehaal het? 

Die gevolg is dat mense dan alles in hul vermoë doen om dit wat hulle glo hulle moet hê, in die hande te kry.  Ongelukkig sien hy dit ook by gelowiges raak.  Hy hoor dit in die gebede van gelowiges.  Wanneer gelowiges bid hoor hy hoe mense vir God vir hierdie dinge vra.  Dus maak hy die afleiding dat mense selfsugtig bid omdat hulle die wêreld liewer het as wat hulle vir God het.  Nou waarsku hy ons.  Daar is geen midde-weg wanneer dit by die aanbidding van God kom nie.  Hy is die Een wat vir ons sê dat Hy onverdeelde trou van ons vereis.  Daarom moet ons lewe altyd op Hom en die uitbreiding van Sy koninkryk gerig wees.  Beteken dit dat ons ‘n lewe van swaarkry en tekort gaan leef omdat ons die Here aanbid?  Natuurlik nie!  Jesus self sê vir ons dat ons nie oor kos en klere besorg moet wees nie.  God sorg vir die veld en die voëltjies.  Selfs Salomo in al sy glorie kon nie eers so mooi wees nie.  Hoeveel te meer sal God dan nie vir ons sorg nie, maar daar is ‘n orde wat ons moet verstaan.  Beywer julle eers vir die koninkryk van God en dan sal Hy al hierdie dinge vir julle gee.  Dus nie selfsugtige begeertes en dan die afskeep tydjies vir God nie.  Allereers Sy eer en dan sorg Hy vir die res.