Teks: Lukas 18:9-14 en 28-30
Liedere: 475:1,2 493:1,2,5 505:1,2,3,4
Kinders en soms ook sekere volwassenes, is gefassineerd deur die kunsies van ‘n kulkunstenaar. Met die spoed van sy hand en goed ingeoefende kunsies, is hy besig om jou om die bos te lei en jou te laat glo dat hy werklik in staat is om te kan toor. Tog weet ons almal dat hy net besig is om ons om die bos te lei. Hy is besig om ‘n illusie te skep en ons word verkul. Indien hy ‘n fout maak en jy agter kom waarmee hy besig is, is die hele toertjie en sy reputasie daarmee heen.
In vandag se teks is Lukas besig om ons van ‘n keer te vertel toe Jesus vir Sy dissipels geleer het dat dit ook in aanbidding moontlik is om ‘n illusie te skep en ander mense om die bos te lei. Ongelukkig die een wat hiermee besig is, weet God alles en kan Hy nie om die bos gelei word nie. Daarom is dit vir Jesus moontlik om die bedrogspul te ontbloot.
‘n Fariseër stap in die tempel in. Hy is vol selfvertroue en trek met ‘n gebed los waarin hy besig is om sy voortreflikheid te besing. Hy is meerderwaardig en vol selfvertroue. Hy kyk neer op ander wat in sy oë maar half hulpeloos is en dank God dan daarvoor dat hy tog nie so is nie. Hy spog oor sy ruim bydrae en sy toewyding. Hy gee meer as ander en vas sommer dubbel soveel keer as wat van hom verwag word. Dan stap sy selfvoldaan uit by die deur en die wat hom sien en hoor wens om ook so toegewyd soos hy te kan wees.
Dan vertel Jesus ons van ‘n tollenaar wat ook tempel toe kom. Hy is skaam oor sy lewe en kruip so half agter in die kerk weg. Hy is bedroef en hartseer oor sy lewe. Hy huil voor God en smeek God om hom as sondaar mens genadig te wees. Niemand wil soos hy wees of sien hom as die model gelowige nie.
Jesus kyk anders na die twee mense. Hy sê dat die Fariseër nie tempel toe gekom het om God te ontmoet en deur God verander te word nie. Dit maak dit ook vir hom onmoontlik om medelye na ander mense te kan kyk en na hulle uit te reik. Hierteenoor is die tollenaar gebroke en smeek God om genade. Jesus ontbloot dit waarmee die Fariseër besig is en noem dit om die naam: Selfverering! Die tollenaar is die man wat huis toe gaan met die wete dat sy saak met God reg is. Elkeen wat homself voor God gering ag sal verhoog word.