Preekskets 24 Oktober 2021 Ds Jacques – Hou jou oog gevestig op Jesus


Teks:  Hebreërs 12:1-3

Liedere:  203:1,2,3   18:1   268   267:1,2,4

Die brief word aan ‘n groep gelowiges gestuur wat baie swaar kry as gevolg van die teenkanting wat hulle uit hul gemeenskap ervaar.   In hoofstuk 10:32-39 word hulle daaraan herinner hoe toegewyd hulle kort na hul bekering was.  Hulle het in die stryd staande gebly.  Hulle het baie gely.  Daar was beledigings, vervolging en openlike bespotting.  Aan die ander kant was daar teenkanting omdat hulle hulself aan die kant van die wat deur hierdie mense se optrede swaar gekry het geskaar het.  Hulle het meegevoel gehad met die gevangenis en hulle het dit met blymoedigheid aanvaar toe hulle hul besittings verloor het.  Hulle kon dit alles verdra omdat hulle besef het dat hulle ‘n besitting het wat veel beter en blywend is. 

Maar ongelukkig het hierdie mense moeg en moedeloos geraak.  ‘n Mens kan ook net so lank die verdrukking verdra voordat jy nie meer verder daarvoor kans sien nie.  In hierdie brief word die mense nou aangespoor om weer net so gemotiveerd te raak soos wat hulle aan die begin, kort na hul bekering, was.  Hulle word daaraan herinner dat hulle in daardie tyd vir al hierdie dinge kans gesien het omdat hulle gemotiveerd was en hul oog op die einddoel gerig was.  Nou het die omstandighede hulle verblind en gemaak dat hulle die einddoel vergeet het of die oog nie meer daarop gerig hou nie.

Hulle word hier herinner om weer die droom en einddoel te onthou, om weer die oog op Jesus te rig, sodat hulle kan volhard soos wat hulle voorheen gedoen het.  Dit vra baie van hulle, maar dit is die moeite werd.  Hulle moet volhou en volhard ter wille van die vreugde wat op die einde op hulle wag.  As hulle dit kan regkry om hierdie einddoel die heeltyd te onthou en daarop te fokus, sal die omstandighede waarin hulle hulself bevind, nie oorweldigend raak nie.  Dan sal hulle ook nie geestelik moeg word en uitsak nie.  Hierdie is nie net ‘n waarskuwing vir ‘n gemeente 2000 jaar gelede nie.  Dit is ook vir ons in ons eie konteks ‘n waarskuwing.  Ook ons moet onthou dat ons net kan en sal volhard as ons die einddoel voor oë hou.  Ook ons kan baie maklik geestelik moeg word en uitsak as ons net aan onsself en ons onmiddellike omstandighede dink.  Ons probeer dalk om nou ongemak te vermy, maar eendag sal ons baie spyt wees as ons dan nie deel gaan hê aan die vreugde wat op ons wag nie.  Moenie daardie fout maak nie.  Volhard deur die oog op Jesus gerig te hou.  Hy sal ons motiveer, sterk maak en op die regte pad hou.