Preekskets 31 Oktober 2021 Ds Floors Ellis – Jesus hou self sy kerk in stand


Skriflesing: Mat 16:13-18

Toe Jesus in die streke van Sesarea-Filippi kom, het Hy vir sy dissipels gevra: “Wie, sê die mense, is die Seun van die mens?”   Hulle antwoord: “Party sê Johannes die Doper, party Elia, party Jeremia of een van die profete.”   “Maar julle,” het Hy gevra, “wie, sê julle, is Ek?”   Simon Petrus het geantwoord: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.”  “Gelukkig is jy, Simon Barjona,” het Jesus vir hom gesê, “want dit is nie ‘n mens wat dit aan jou geopenbaar het nie, maar my Vader wat in die hemel is.  Ek sê vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.

Vandag, 504 jare gelede, 31/10/1517 is daar ‘n man met ‘n hamer, Martin Luther, 95 stellings en die Wittenberg-kerkdeur.  Die berig versprei binne enkele weke soos ‘n veldbrand deur hele Duitsland.  Binne enkele maande was Europa aan die brand. Die Hervorming het begin. 1518–1520:  die Pous veroordeel Luther, sy stellings en optrede. 1521:  die Pous daag Luther voor die pouslikehof, eis:  Trek alles terug, of!!! Luther antwoord:  Ek is deur die Heilige Skrif en doodgewone logika oortuig van my saak.  Daarom aanvaar ek nie die gesag van pouse of vergaderings nie. Hulle het mekaar in elk geval weerspreek.  My gewete word deur Gods Woord gevange geneem.  Ek kan nie en is nie bereid om enigiets terug te trek nie. Om teen jou gewete in te gaan, is nie reg nie en ook nie veilig nie.  God help my!  Amen.  Hier staan ek.  Ek kan nie anders nie. Klink dit nie bekend nie?  Ek dink Luther het die volgende tekste gelees; Hand 4:18-20  Daarna het die Raad die apostels weer laat inkom en hulle beveel om glad nie verder in die Naam van Jesus iets te verkondig of te leer nie. Maar Petrus en Johannes het vir hulle gesê: “Julle moet maar self besluit wat voor God reg is: om aan júlle gehoorsaam te wees of aan God. Wat ons betref, dit is onmoontlik om nie te praat oor wat ons gesien en gehoor het nie.” Terwyl Paulus hom nog so verdedig, skreeu Festus: “Jy’s mal, Paulus! Jou groot geleerdheid maak jou mal!”  Maar Paulus sê: “Ek is nie mal nie, U Edele, maar onder die leiding van die Heilige Gees praat ek die waarheid wat elkeen kan verstaan.” Luk 22:66-70  Toe dit dag word, het die Raad van die volk – die priesterhoofde en die skrifgeleerdes – vergader en Jesus voor hulle laat bring. Hulle sê toe: “As jy die Christus is, sê dit vir ons.”  Maar Hy antwoord hulle: “Al sou Ek dit vir julle sê, sal julle tog nie glo nie; en al sou Ek vir julle ‘n vraag stel, sal julle ook nie antwoord nie. Maar van nou af sal die Seun van die mens aan die regterhand van die almagtige God sit.”  Toe vra hulle almal: “Dan is jy die Seun van God?”  Hy sê vir hulle: “Dit is soos julle sê: Ek is.” Hierdie Jesus, die Seun van God, het ‘n kerk gestig.  Ons is deel van sy kerk. Wat is vandag waar van die kerke in SA?  Ek kan maar net praat van die NG Kerk – die NG Kerk is kort kort in die nuus met hofsake en berigte oor moontlike kerkskeuring. Het ons dalk opnuut ‘n Protestant met ‘n hamer nodig wat kan protesteer en ook bely wat die Woord sê, wat weer die orde wil handhaaf van die Woord, die Belydenisskrifte en die Kerkorde.

Luther het die Bybel in Duits vertaal en dit gedruk op die Gutenbergpers en dit word oor en oor vertaal, en vandag praat die Bybel en dele van die Bybel al in byna 3000 van die 7000 wêreldtale. Ek het hier in my hand ‘n hamer, die hamer van die Woord. En die Woord sê wat waar is van die Kerk van Jesus Christus.

1) JESUS IS DIE FONDAMENT VAN DIE KERK

Jy is Petrus en op hierdie ROTS sal Ek my kerk bou. Is dit op die mens Petrus wat Jesus sy kerk bou?  Nee, kom ek verduidelik. Die kerk van Jesus het net een fondament/rots=Jesus. Die fondament is Jesus Christus. Maar Jesus het opgevaar hemel toe, en nou moet iemand tog lei/voorgaan/pad wys.  Jesus kies Simon Petrus, ook bekend as Sefas.  As mens is Petrus ‘n swakkeling, lafaard, humeurig, maar in Jesus se hand en aan Jesus se hand word hy ‘n kerkleier.  Die Grieke hoor in die naam Petrus=Rots en die Jode/Arameërs hoor in die naam Sefas=Rots en verstaan:  Petrus is Jesus se keuse vir die kerkleier.  Petrus en die res van die dissipels het eerstehands gesien, gehoor, beleef, geglo.  Hulle het die Heilige Gees ontvang en die Bybel geskryf.  En die Bybelse boodskap is:  Jesus was en is die enigste fondament van sy Kerk.

Petrus en die ander se woorde olv die Heilige Gees is ons padkaart vir 2021.

SA/kerke/sinodes kan verander, maar die Woord van God bly staan.

Die fondament bly Jesus.

2) JESUS IS DIE BOUER VAN DIE KERK

Op hierdie rots sal EK my kerk bou. Die Menlyn-kompleks word beskou as die grootste winkelkompleks in Afrika. Dit het begin by ‘n kaal stuk grond, toe ‘n miernes van bedrywigheid deur ‘n horde bekwame mense. Een persoon bou nie alleeen nie en die gevolg is ‘n massiewe winkelkompleks.  Luister nou mooi …

Die Kerk van Jesus word al oor eeue heen gebou.  Die Bybel sê Jesus is die Eienaarbouer, die Meesterbouer, die Argitek.  Maar die genadewonder is ek en jy is weens die grasie van die Meesterbouer medebouers.

Ek het ‘n problem. Dit lyk my daar is mense wat hul taak verkeerd verstaan, hulle is nie medebouers nie, maar brekers, demolisie spesialiste.

3) JESUS IS EIENAAR EN HOOF VAN DIE KERK

Op hierdie rots sal Ek MY KERK bou. Die kerk is gekoop/betaal – Die prys was Jesus se lewe aan die kruis. Waarom so duur? – Sy kerk is nie geboue nie, maar kosbare mense=ek/jy. In die Grieks beteken die woord Kurios=Here en Kuriake=Kerk. Hoor u?  Die woord Kerk kom van die Here, die Kerk kom uit die Here, dit is die eiendom van die Here, dit is sy kerk. Nou ‘n vraag: Wat maak ons met/in sy kerk, hoe moet ons optree/lewe/werk in sy kerk?  Onhou, die Kerk is nie ‘n instelling/organisasie nie, nie ‘n private eksklusiewe klub nie, nie ‘n politieke party nie, nie ‘n alternatief vir die Staat nie.  Die kerk is nie my kerk om in te maak en te breek en te verwoes soos ek wil nie. Nee, die kerk is volgens 1 Pet 2:4-5; die lewende steen, wat deur die mense afgekeur is, maar deur God vir die ereplek uitverkies is.Laat julle as lewende stene opbou tot ‘n geestelike huis, om ‘n heilige priesterdom te wees en geestelike offers te bring wat deur Jesus Christus vir God welgevallig is.

*Die kerk is ’n geestelike huis, gebou met lewende stene=ek/jy. Elke steen word gedra deur 6 ander stene en elke steen dra self ook 6 ander stene.  Is jy ‘n steunstelsel vir andere en het jy ook ‘n steunstelsel? Die kerk is ‘n heilige priesterdom. Jy is ‘n priester in Jesus se diens, jy is sy hande/hart/oë/ore/mond. Offer jy jouself?  Broers en susters, dit is 504 jare na Luther en sy hamer, en Jesus hou steeds sy kerk in stand.  Dit is die wonderlikste genadevoorreg om lid van die kerk van Jesus te wees. Dit is die grootste verantwoordelikheid, uitdaging en taak.

Noordoos-Pretoria se leuse=

Saam op pad vir Christus en Sy kerk.

Jesus hou Noordoos-Pretoria al 51 jare in stand. Vertrou Hom ook vir môre en oormôre.

Die 5 Solas van die HERVORMING

SOLA SCRIPTURA – NET DIE SKRIF;

SOLA GRATIA – NET GENADE;

SOLA FIDEI – NET GELOOF;

SOLUS CHRISTUS – NET CHRISTUS

en daarom …

SOLI DEO GLORIA – NET AAN GOD DIE EER