Preekskets 07 November 2021 Ds Jacques – Christus is die volkome offer


Teks: Hebr 9:23-28

Liedere: 525:1,2   190:1,2   401:1,2,3,4   402:1,2,3,4

In die Joodse godsdiens het die offers wat gebring moes word om vir jou sondes te betaal ‘n baie belangrike rol gespeel.  Die enigste manier om van jou sondes verlos te word, was om ‘n dier in jou plek dood te maak.  Die vloei van bloed was baie belangrik. Met hierdie ritueel staan die skuldige mens met sy sonde voor God. Die dier betaal dan namens jou in jou plek.  Die priesters is dan die spreekbuis vir God wat die vryspraak aankondig. Priesters is ook mense en moes daarom ook vir vergifnis pleit. Selfs die hoëpriester moes elke jaar in die allerheiligste deel van die tempel ingaan om versoening vir sy eie sondes te vra.

Ongelukkig het nie een van die rituele ‘n blywende oplossing gebied nie. Die mens sondig weer en weer en daarom moes daar weer en weer offers gebring word. Die enigste blywende antwoord vir die probleem is om ‘n offer te bring wat volledig en volkome verlossing bring. Jesus is die enigste reiniger wat dit vir ons kan doen.

Volgens die skrywer van die Hebreërs brief is enige menslike poging net ‘n afbeelding van die werklike. Slegs Jesus gee ware verlosing. Daarom is Sy offer net een keer nodig gewees. Indien dit nie so, was nie sou Jesus weer en weer moes ly vir al die nuwe sondes wat ons na Sy vorige vergifnis poging gepleeg het. Dit sou van die heel eerste sonde van die mens nodig wees, tot die voleindiging van die wêreld.

Hy is geen afbeelding van die werklike nie. Hy ís die Ware en Werklike. Dis so wonderlik vir ons as mensdom. Inderdaad die beste nuus wat nog ooit op aarde gebeur het en vertel kan word. Daarom kan ons met groot vrymoedigheid nagmaal vier. Ons word terug geneem na daardie dag, daardie eenmalige offerdag, toe God Sy eie Seun namens ons en in ons plek as ‘n offer vir ons oortredings gegee het.

Ons kan net vir God dank en eer vir dit wat Hy aan ons deur sy Seun te offer bied. Daarom versterk die tekens ons en inspireer ons om uit groot dankbaarheid ons lewens ter ere van die Enigste Een te leef wat waardig is om die Verlosser genoem te word.

Die offer is gebring. Die prys hoef nooit weer betaal te word nie. Glo dit en getuig daarvan teenoor ‘n wêreld wat dit nog nie ontdek of besef het nie.