Preekskets 30 November 2021 Ds Jacques – Jy word deur My beskerm


Teks:  Eksodus 4:18-31

Liedere:  354:1-4  415:1,3    470:1,3,4

Daar is nogal groot ooreenkomste tussen Moses se roeping as die bevryder van die Israeliete uit Egipte en Jesus se koms as die Bevryder van sondaar mense.  Moses vra sy skoonpa toestemming om na sy mense te gaan en te kyk hoe dit met hulle gaan.  So kom Jesus ook na ons mense, juis omdat Hy weet hoe verlore ons is en hoe dit met ons gaan.  Albei word met seën vir hul taak gestuur. 

Moses neem sy staf saam.  Hiermee gaan daar wonders gedoen word om sy mense en vir farao te wys dat hy inderdaad die een is wat deur God vir hierdie taak gestuur is.  So doen Jesus ook wonders terwyl Hy op aarde is.  Mense sien Sy goddelikheid hierin raak.  Mense moet Hom nie aanbid omdat Hy wonderwerke kan doen nie.  Deur die wonders word hulle op God se grootheid gewys. 

In albei gevalle is die teenkanting wat hulle ervaar daar.  Eers is die Israeliete opgewonde, maar gou begin hulle kla en selfs vir Moses verkwalik dat dit slegter met hulle gaan as voordat hy by hulle was.  Die farao van Egipte wil ook nie toestemming gee dat die Israeliete sommer net kan wegtrek nie.  So ervaar Jesus dieselfde tipe teenkanting terwyl Hy op aarde is. 

Moses kon egter voortgaan en gaan doen wat hy moes omdat God hom die versekering gegee het dat Hy teenwoordig is by Moses en hom in die moeilike omstandighede sal beskerm.  God beloof Moses dat Hy by Hom sal wees en hom die nodige ondersteuning sal gee wat hy vir die taak mag nodig kry.  So stuur hy vir Aaron as hulp. 

Daar was wel die mense wat na Moses se boodskap geluister en baie dankbaar dat hulle gebede deur God verhoor is.  Hulle het al vir so lank vir uitkoms gesmeek en nou kom Moses met die boodskap dat die tyd aangebreek het daarvoor.  Hulle glo en hulle begin om God te aanbid.  Soos ons weet het hierdie opwinding ongelukkig redelik gou oorgegaan in ongelukkigheid omdat die teenkanting en verslegting in hul omstandighede dit vir hulle moeilik gemaak het om die vryheid wat op hulle wag raak te kon sien.  Jesus is die grootste Bevryder van alle tye, want Hy bevry alle sondaar mense in die wêreld wat hul vertroue in Hom plaas.  Ongelukkig gebeur dit ook dat mense opgewonde raak as hulle hierdie boodskap hoor, maar gou maak die alledaagse probleme van die lewe dat mense moed verloor en die opwinding van die redding van Jesus verloor.  Ons is in die Advent tyd en dis juis nou nodig om mekaar aan die wonder van wie en wat Jesus is te herinner.  Hy beloof dat Hy Immanuel met ons is.  Hy beskerm en versorg ons.  Besef dit weer en vertrou Hom volledig.