Teks: Psalm 81
Liedere: 148:1,2,4,5,6 365:1,3 346:1,2,3
In die voorafgaande 2 Psalms het Asaf daarop klem gelê dat die Here hard teenoor Jerusalem optrede omdat hulle hul rug op die Here gekeer het. In hierdie Psalm roep hy die mense op om terug te keer na die Here en Hom met oorgawe te eer.
In die eerste 3 verse word die verskillende groepe van belang daartoe opgeroep. In die eerste vers word almal opgeroep om God te eer. In die tweede vers is dit die sanger en musikante se beurt, dus die leviete groep en dan in die derde vers die trompette of priesters. Hierdie Psalm is heel moontlik in die 7de maand van die Joodse jaar gesing omdat daar dan 3 feeste plaasgevind het. Op die eerste van die maand is die Nuwejaarsfees gevier. Die tiende van die maand is die Versoeningsfees gevier en die vyftiende van die maand is die fees van die Tabernakel gevier.
Die feeste is egter sonder veel vreugde gevier. Vir baie mense was dit net ‘n verpligting wat afgehandel moes word. Nou skryf die Psalmskrywer dat die Here die uitroep van die mense gehoor het. Hy het gehoor dat die mense kla dat die verpligtinge vir hulle te swaar geraak het. Hy het gehoor en Hy verstaan. Maar Sy begrip is dalk anders as wat hulle sou verwag. Hy sê nie nou dat hulle maar kan stop met die feeste nie, maar eerder dat hulle gesindheid teenoor die feeste moet verander. Hulle moet dit nie as ‘n plig sien nie. Dan is dit inderdaad te swaar, maar as hulle dit as ‘n wonderlike voorreg sien, as ‘n uitdrukking van hul verhouding met God, verander alles.
Dan sien hulle hoe God teenwoordig is in hulle lewe. Hulle moet leer om God raak te sien, om Hom te leer ken, te leer vertrou. Hulle moet leer om geen ander gode te erken nie. Nou kan hulle die mandjie van verpligting neersit en God in vreugde dien. Dit raak dan vir hulle ‘n wonderlike geleentheid om saam met ander wat soos hulle glo te aanbid. God berispe die mense. Hulle wil dit nie doen nie. Hulle rebelleer. Wat moet God met so ‘n volk maak? Nog erger is dat hulle wel deelneem aan die feeste, maar dat hulle dan net voorgee dat hulle harte daarin is. Kom ons leer ‘n les by die Israeliete. Kom ons besef wat God van ons vra. Kom ons sien die beloftes wat God aan ons maak as ons ons lewe volkome aan Hom wy: Ek sal julle voed en versorg beloof die Here. Maak my mond wyd oop Here, soos ‘n klein voëltje wat ten volle afhanklik is van sy ma se versorging. Maak my bewus daarvan dat alles wat ek het en is net genade is.