Teks: Lukas 2:8-20
Liedere: 364:1,2,3 349:1,2,3,4 350:1,2,3 348:1,2,3
Moet ons Kersfees vier? As ‘n mens jou ore uitleen aan wat sommige mense oor die saak sê, hoor jy dat daar sommige mense is wat sterk daaroor voel dat Kersfees nie gevier moet word nie. Die argumente wat jy hoor is soos volg: Ons vier Kersfees op die verkeerde dag; Kersvieringe plaas die klem op verkeerde dinge; dis nie ‘n opdrag van God of die Bybel nie…. So kan ons aangaan oor verskillende redes wat aangevoer word.
Maar as ons na die Bybelse vertelling van wat daardie dag luister, hoor ons ‘n heeltemal ander klem. Ons hoor ‘n engele-koor wat God loof en eer vir hierdie fantastiese gebeurtenis. Die engele verskyn in heerlikheid aan die skaapwagters. Die heerlikheid van die Here het oor die skaapwagters geskyn. Hulle word van die wondergeboorte vertel. Die boodskap wat aan hulle gebring word is ‘n goeie tyding van groot blydskap, wat vir die hele volk bedoel is. As die tyding so goed is, kan daar nie daaroor stil gebly word nie. Dit is inderdaad ‘n tyding wat vir die hele volk, of dan eerder vir die hele wêreld bedoel is.
Hulle is verras en oorbluf en kan nie wag om te gaan sien of alles is soos wat God dit aan hulle geopenbaar het nie. Hulle kry alles net so en vertel aan Maria en Josef wat hulle alles gesien en gehoor het. Almal wat hoor wat hulle sê en sien wat hier gebeur was verwonderd oor die gebeurtenis. Maria het alles wat sy gehoor en gesien het onthou, dit opgeteken en gereeld weer daaraan gedink. Hierna gaan die skaapwagters terug terwyl hulle God loof en prys.
Ek weet dat God ons nie spesifiek verplig het om die dag te herdenk of om dit spesifiek op 25 Desember te herdenk nie, maar as ‘n mens na hierdie verhaal kyk: Lyk dit of God sou verkies dat ons tjoepstil moet bly oor die grootste gebeurtenis wat nog ooit in die wêreld gebeur het? Klink dit of Hy Sy Seun in die stilligheid na die wêreld wou stuur en dit so ongesiens as moontlik wou laat gebeur? Ek glo nie so nie. Menigte engele kondig dit aan. Dit word uitgejubbel, opgeskryf en oorvertel. Van die eerste dag af was dit so en totdat Hy weer na die aard kom om ons te kom haal sal dit so wees. Kom ons sluit by die engele-kore aan en ons aanbid Hom, ons erken Hom en ons eer Hom. Die wêreld het nodig om dit te hoor en ek kan u verseker dat die hoorders net so verwonderd te wees as hulle dit hoor. Die Seun van God is vir ons gebore, Immanuel, God met ons.