Herwin jou sig (Lukas 6: 37-42)
Moenie oordeel nie. Dit is wat hierdie teks sommer vir ons heel aan die begin sê. Wanneer jy na ‘n ander se gedrag kyk en hom of haar daaroor oordeel, spreek jy jou misnoeë daaroor uit. As jy selfs verder as dit gaan, kom jy by ‘n punt waar jy die persoon veroordeel oor dit wat hy of sy gedoen het. Dit beteken dat jy hierdie persoon afskryf of sê dat jy nie dink daar is enige hoop vir hom of haar nie. Jy is dan heel moontlik klaar met hierdie persoon.
Ons teologiese vertrekpunt, wanneer ons oor hierdie saak dink, is dat God die Enigste of die Hoofregter oor ons mense is. Hy is alleen regverdig, Hy het alle kennis oor ons harte en Hy alleen het daarom die volste reg om ons te beloon of ons te straf vir ons gedrag. Alle mense word geroep om God se wil uit te voer en Hy sal oor ons optrede teenoor Sy wil besluit. Nie ons nie. Dis nie ons doel of plek nie. God se wil is die maatstaf waarteen Hy ons toets. God is soewerein en almagtig. As ons besluit om ‘n oordeel oor iemand uit te spreek of iemand te veroordeel, is dit gewoonlik nie God se wil wat ons motief hiervoor is nie, maar meestal ons eie ongemak of ongelukkigheid.
Daarom is ons nie by magte om dit te doen nie. Net God kan. Verder is God gou om te vergewe. Hy ken die mens se hart en Hy weet as ons opregte berou oor ons optrede het. Hy spreek maklik vry en Hy verwag dit ook van ons.
Beteken dit nou dat ons eenvoudig net alle onreg moet verdra? Natuurlik nie. Wat ons eerder moet doen is om ons eie tekortkominge raak te sien en God te vra om daardeur te werk en daarvan ontslae te raak. Die teks vergelyk dit met ‘n balk in ons oog. Met hierdie balk in ons oog sien ons swak. Ons sien dalk maklik ander se foute raak en kritiseer hulle, maar ons mis ons eie foute. Daarom moet ons die Here vra om ons hiervan vry te maak, sodat ons beter kan sien om die splinter uit ‘n ander se oog te haal. Nie oordeel of veroordeel nie, maar eerder beoordeel of toets aan die hand van God se wil. Ontwikkel ‘n verskerpte sig ter wille van ander. Werk sag met ander. Help ander. Groei saam. So bou ons aan God se Koninkryk.