Preekskets 20 Maart 2022 Ds Jacques – Die Woord is in jou mond en in jou hart


Tema:  Die Woord is in jou mond en in jou hart

Teks:  Romeine 10:8-15

Liedere:  184:1,2,4   390:1-4   396:1,3,4

Niemand wat in Hom glo sal teleurgesteld wees nie!  Hoe wonderlik is hierdie sekerheid nie?  Dit maak ‘n mens opgewonde en gee ons hoop.  As ‘n mens soekend is en dit hoor, sal jy alles in jou vermoë doen om uit te vind hoe ‘n mens moet maak om hierdie sekerheid te kan verkry. 

Die teks leer ons as die Woord die sekerheid van geloof is.  Ons weet dat Jesus die Woord is wat mens geword is.  Daarom weet ons dat geloof in Jesus die antwoord is.  Ons dus ook sê Jesus is die boodskap van die geloof en geloof in Hom gee vir ons die sekerheid. 

Die geloof in Jesus berus op twee punte.  Eerstens moet ‘n mens met jou hart glo.  Dit gaan hier oor meer as ‘n die verstand.  ‘n Mens moet kennis bekom.  ‘n Mens leer wie Jesus is, maar dis nie genoeg nie.  Daarna moet hierdie wete jou hart raak.  Eers as jou hart verander is, kan jy regtig van ‘n oorgawe en geloof in Jesus praat.  Tweedens moet jy dan bely wat jy nou glo.  Dit behels natuurlik ‘n openbare geleentheid waar jy dit wat jy nou glo met ander kan deel en dan ook daaglikse getuienis van dit wat jy glo.  Ons spreekwoord sê mos:  Wat die hart van vol is, loop die mond van oor.

So word die jy dan vrygespreek en gered.  En dit is dan waarin ons vreugde lê.  Jy ontvang al die seëninge uit die hand van die Here wat Hy aan ons beloof.  Jy word in jou alledaagse lewe deur Hom versorg en jy sien met groot verwagting na die ewigheid uit wat op ons wag.  Dit maak dan werklik dat jy nooit teleurgesteld sal wees nie. 

Mag ons in hierdie lydingstyd weer opgewonde raak oor hierdie sekerheid.  Mag ons harte vol raak met die boodskap van geloof en mag ons monde oorloop van dit waarin ons glo.  Mag ons God waarlik vertrou.  Mag ons so getuig dat mense om ons nuuskierig raak oor wat ons glo en hoe ons leef.  Mag ons elkeen geestelike groei beleef en mag ons gemeente in getalle groei deur elke een van ons se getuienis.