Teks: Openbaring 19:11-17
Liedere: 257:1,2,3 396:1,3 203:1,2,3
Johannes 15 leer ons dat ons in Jesus geanker moet wees. Hy is die wingerdstok en ons is die lote. Soos ons almal weet leer Jesus ons met hierdie beeld dat ons as gelowiges geen kans staan om as suksesvolle navolgers van Hom te leef en op te tree as ons dit in ons eie krag probeer doen nie. Ons moet die lewensap by Hom kry en daarvoor moet ons by Hom ingeanker wees.
As ons egter ingeanker word by Hom, lyk ons lewens maar redelik beroerd as ons dit teenoor Hom stel. Dit lyk eintlik nie of ons op hierdie wingerdstok pas nie. Daarom is dit nodig dat ons gesnoei moet word. Dit is die werk van die boer om ons te snoei. Die doel hiermee is dat ons vrug sal dra, wat vir die Here aanneemlik sal wees.
Nou roep Openbaring 19 ons op om te jubel en te juig oor die vreugde wat ons as kinders van God ervaar. Daar is vreugde in die hemel want die Oorwinnaar ry op Sy wit perd in ‘n triomftog. Sy kleed is met bloed bevlek, maar daar is nie bekommernis daaroor nie. Dis die teken van Sy oorwinning en daarom roep Sy volgelinge Hom aan en eer en prys Hom as die Oorwinnaar.
‘n Groot Bruilofsfees word gehou en ons as Sy uitverkorenes is welkom om by die feestelikhede aan te sluit. EN ONS MAG DAAR WEES!!! By die krip het alles begin. God stuur Sy Seun na die wêreld. Die Wingerdstok word op aarde geplant sodat ons in Hom geanker kan word. Die kruis is die weg wat Hy loop om ons te red. Ons word deur Hom gesnoei en gevorm. Sy offer is volledig en ewig. Hy het ten volle vir ons vryheid betaal. Daarom kan ons hom nou aanroep en erken as Koning van alle konings en Here van alle heersers. Geen ander, aardse heerser of koning sou ooit bereid wees om die pad wat Hy gestap het te stap om vir ons vryheid te kry nie. Dit maak Hom waarlik die Here van alle heersers en die Koning van alle konings.
Wat ons nou moet besef is dat ons lewe nie hier op hierdie aarde eindig nie. Dit is nie al nie. Ons het ‘n bestemming by God, wat God self vir ons moontlik gemaak het deur Sy Seun en waarheen Jesus teruggekeer het sodat Hy vir ons plek gereed kan gaan maak en kan inwag wanneer ons daar aankom. En dit is God se hoofdoel met die Paasgebeure. Vryheid vir ons. ‘n Bestemming vir ons. Eer aan Sy Seun vir ewig.