Preekskets 17 April 2022 Ds Jacques – Begrawe die vlees, lewe deur die Gees


Teks:  Romeine 3:21-26

Liedere:  169:1,2,3   417:1,2   415:1,2,3

Ons as mense hou van mense wat ‘n groot uitdaging oorkom het.  Ons is trots op ons prestasies.  Paulus skets egter ‘n donker prentjie.  Wanneer dit by die verlossing van mense kom, is daar nie ‘n menslike oplossing nie.  Dit is die een ding waar ons nie self ‘n plan sal kan maak nie.  Gelukkig hoef ons ook nie.  Ons vlees is saam met Hom begrawe. 

God se getrouheid word in hierdie teksgedeelte bevestig.  Reeds in die Ou Testament word God se genade in die dood van Jesus aangekondig.  Almal het gesondig en is ver van God af, maar gelukkig word almal wat glo deur die genadedood van die Here Jesus Christus vrygemaak.  Nou leef ons vanuit hierdie voltooide werk van Jesus Christus.  Ons is nie meer skuldig nie, maar ons word deur God regverdig verklaar. 

Die uitspraak in ons regspraak is gegee.  Ons almal staan skuldig voor God, maar Jesus is as offer in ons plek gegee.  Hy het die prys namens ons betaal.  Daar is nou geen veroordeling meer vir die wat in Jesus glo en deur Hom regverdig verklaar is nie. 

Daarom moet ons nou vanuit hierdie voltooide werk van Jesus leef.  Ons speel nie meer ‘n geestelike speletjie van wettiese nakoming van reëls, om so God se guns te probeer wen nie.  Ons is gered.  Ons is God se kinders.  Ons is skoon gewas en nuut gemaak deur Jesus Christus se verlossingswerk.  Ons vlees is saam met Hom begrawe en ons leef nou as nuwe mense deur die Gees. 

Ons is soos ‘n skoenlapper wat eers ‘n ruspe of wurmpie was.  Ons het blare geëet en vreeslik stadig beweeg, maar na ons transformasie is ons skoenlappers.  Skoenlappers wat die vryheid het om ons vlerke te sprei en te vlieg waar ons wil wees, wat van een blom na die volgens kan vlieg en die soetste nektaar kan geniet.  Waarom wil ons dan weer terug keer en die lewe van ‘n wurmpie leef?  Ons leef nou uit die Gees, nie meer deur die vlees nie.  Glo dit met u hele hart en moet nie weer terug keer of daarna terug verlang nie.  Die oue is verby, die nuwe het gekom.  Die Here het opgestaan, die Here het waarlik opgestaan….en nou leef ons as oorwinnaar mense as gevolg van Sy voltooide verlossingswerk.