Preekskets 12 Junie 2022 Ds Jacques – Die Gees sal julle in die volle waarheid lei


Teks:  Johannes 16:12-15

Liedere:  184:1,2,3,4  273:1,4   431:1,2

Ons weet nie alles nie.  ‘n Filosofie professor het altyd sy eerste lesing van die jaar met die eerstejaars in sy klas met hierdie woorde begin.  Sy rede was om die studente 2 dinge te leer.  Eerstens om hiermee hul nuuskierigheid aan te wakker.  Omrede ek nie alles weet nie, wil ek juis moeite doen om meer uit te vind en meer te weet, maar aan die ander kant hou dit jou ook nederig.  Omrede ek nie alles weet nie, besef ek dat daar ander mense is wat baie meer van sekere onderwerpe as ek weet. 

Die Heilige Gees het volgens die Skrif baie take.  Hy wys ons op sonde, help ons bid, tree as ons Voorspraak op en nog baie meer.  Die Vader stuur die Gees na die wêreld net soos wat Jesus na die wêreld gestuur is, maar wel met ‘n ander doel.  Een van die groot take van die Heilige Gees is om ons na die Vader toe te roep of te lei.  Die Gees herinner ons aan wat Jesus gedoen het en lei ons om Jesus na te volg. 

Jesus sê vir Sy volgelinge dat Hy hulle nog baie meer wou leer, maar om die dinge te kan verstaan vra vir bonatuurlike begrip.  Daarom kan die volgelinge van Jesus nog nie al hierdie dinge verstaan nie.  Met die koms van die Heilige Gees sal dit egter verander.  Die Heilige Gees sal nou as ‘n interpreteerder hiervan optree.  Die Griekse woord wat hier gebruik word, “Bastazo”, beteken iets is te swaar om op te tel of dis te veel om te kan begryp.  Daarom het ons die hulp van die Heilige Gees nodig om dit te kan verstaan.  Die Gees leer ons die volle waarheid en help ons om dit te verstaan. 

In die Ou Testament is die Gees aan sekere individue gegee om as profete of boodskapper vir die Here op te tree.  Na die uitstorting van die Heilige Gees het elke gelowige nou die Gees in sy of haar hart.  Dis ‘n wonderlike tyd!  Nou is elke gelowige in staat om met die hulp van die Heilige Gees God se volle waarheid te kan verstaan en te kan toepas in sy of haar lewe.  Die Gees leer ons alles wat God wil hê dat ons moet hoor en verstaan.  Dieselfde Gees wat op die eerste gelowiges uitgestort is leef ook in ons harte en maak dit wat vir ons te swaar, te “Bastazo” is verstaanbaar. 

Hy vertel van die dinge wat nog gaan kom, van die verheerliking van Jesus Christus, van die drie-eenheid en nog vele meer.  Hy wil ons in die volle waarheid lei.  Vertrou Hom.