Preekskets 19 Junie 2022 Ds Jacques – Gered tot vryheid


Teks:  Gal 4:8-20

Liedere:  167:1,2   305:1,4   125:1,2

Elkeen van ons ken mense wat ‘n wonderlike resep het waarmee hulle vir ons die heerlike gereg kan optower.  Gewoonlik is dit ‘n familieresep wat oor jare aankom en van een generasie aan die ander oorgedra word.  As ‘n mens probeer om sonder die resep die gereg te maak, of as jy die resep neem en ‘n paar aanpassings maak om die resep te probeer verbeter, is dit net eenvoudig nie meer dieselfde gereg wat voorgesit word nie.

In hierdie teks word die gemeente gewaarsku dat dit presies is wat hulle besig is om in die gemeente van Galasiërs te doen.  Hulle het die volle waarheid van die evangelie ontvang en nou is hulle besig om dit met ander godsdienste en gewoontes te vermeng om so te probeer om die evangelie te “verbeter”.  Paulus waarsku hulle dat dit nie mag gebeurnie.  Indien hulle dit doen is hulle besig om ‘n bespotting van die Evangelie te maak.  Die Evangelie gaan daaroor dat jy op jou sonde gewys word, dat jy berou toon oor die skeiding tussen jou en die Here, dat jy Jesus vir jou verlossing vertrou en dat jy dan as ‘n bekeerde mens vir die Here lewe.  Net dit.  Niks anders nie.  Niks kan hier bygevoeg of weggeneem word nie. 

Die Evangelie maak jou dan vry van jou sonde en plaas jou in ‘n nuwe verhouding met God.  Waarom sal jy dit dan enigsins oorweeg om weer ‘n slaaf van godsdienstige reëls te wil word?  ‘n Wegbeweeg van hierdie Evangelie en die aanvaarding van enige wettiese godsdiens is ‘n terugkeer na slawerny.  Deur geloof in God word jy vrygespreek.

Paulus herinner hierdie gemeentelede aan die vreugde wat hulle die eerste keer beleef het toe hulle tot bekering gekom het.  Hulle moet voortdurend daaraan dink.  Dit sal hulle help om eerder aan die Here vas te hou as om ander alternatiewe te gaan soek.  Enige persoon wat jou iets anders as dit leer, sê Paulus, is die vyand en is nie ‘n verkondiger van die Ware Evangelie nie.  Alle boodskappers se boodskappe moet aan hierdie waarheid getoets word.  Dit mag nie anders wees nie.  Enige iets anders is onsin.  Dit ontken Jesus se werk.  Dit steel ‘n gelowige se sekerheid.  Dit steel ons vreugde.  Dit laat ons twyfel aan die vryheid wat ons in Jesus ontvang het.  Paulus vra 3 vrae aan die gemeente:  Waarom wil julle weer slawe word?  Waar is julle vreugde heen?  Het ek nou julle vyand geword omdat ek julle op die waarheid wys?  Blote godsdienstigheid is nie wat God vereis nie.  God vereis ‘n verhouding met Hom en ‘n oortuigde lewe wat na buite geleef word.  Die evangelie maak ‘n gelowige se hart oop, gevul met eerlikheid, liefde en vrygewigheid.  Ons word vry gemaak om waarlik te wees wie God wil hê ons moet wees.