Preekskets 24 Julie 2022 Dr Bettie Wagner-Ferreira – Kies die beste!


Kies die beste! (Lukas 10:38-42)

Ons het soveel keuses wat ons elke dag moet maak. Geen wonder daar word gesê dat ons mense aan keuse verlamming lei nie.

Wat is dit wat die deurslag gee as ons keuses moet maak?

Wat is ons prioriteite, en hoe word ons prioriteite bepaal?

Ons teksgedeelte help ons as ons dink oor KEUSES en die dinge wat regtig belangrik is.

Dit vertel vir ons van Betanië, ‘n klein dorpie naby Jerusalem, wat die plek van rus genoem word. Dit was ‘n plek waar moeë reisigers kon rus in die koelte van onder andere: palm-, olyf-, amandel-, granaat- en vyebome. Marta, Maria en Lasarus (twee susters en ‘n broer) was vriende van Jesus vir wie Hy in Betanië besoek het. In ons teks beklemtoon Jesus hoe belangrik dit is om rus in jou lewe te vind by Sy voete en van Hom te leer.

Om iets te doen is glad nie verkeerd nie. Maar wat ons doen as Christene moet voortspruit uit ons stilword voor Jesus. Ons moet van Jesus leer, en verder leef vanuit ons verhouding/gemeenskap met Hom. Die beste wat ons kán kies, is om te kies wat vir ons Here die belangrikste is.

Marta en haar suster Maria is albei vriende en volgelinge van Jesus, maar hulle het verskillende persoonlikhede en doen dinge verskillend. Marta is lief vir Jesus en wil die beste moontlik vir Hom gee deur kos te maak en rond te hardloop. Dit is haar idee van hoe om Jesus as eregas te bedien. Sy doen dit met oorgawe. Maar haar suster se optrede steel haar vrede en vreugde en sy kla by Jesus daaroor. Marta voel dat Maria net by Jesus sit en haar nie help nie.

Jesus roep haar sagkens nader en doen dan die teenoorgestelde van wat Marta van Hom verwag het. Jesus verwyt nie vir Maria nie en raas ook nie met Marta nie. As Leermeester en Vriend wys Jesus Marta op haar prioriteite en gesindheid. Marta  moet nuut kyk na wat haar suster doen. Dit is vir Jesus belangrik dat sy bereid is om by sy voete te sit en van Hom te leer. Hy beskou dit as ’n besondere liefdesdaad. Haar toewyding moenie misgekyk word nie. Maria neem tyd om Jesus se hart te hoor.

Hierdie kort gedeelte in die Bybel leer vir ons hoe belangrik dit vir Jesus is dat ons van Hom leer, by Hom ingeprop is om krag en wysheid van Hom te ontvang sodat ons prioriteite in lyn kan wees met Sy wil. Dit is goed om te onthou dat dit nie hier daaroor gaan om te kies tussen goed en sleg nie, maar eerder tussen goed en die beste.

Dit is vir ons die beste om ons prioriteite te bepaal vanuit ons verhouding met die Here. Dié wat dit volg, kies die beste net soos Maria. Natuurlik moet ons Jesus se prioriteite in elkeen van ons eie unieke omstandighede sien en uitleef. Ons omstandighede verskil van mens tot mens, maar die beginsel bly dieselfde: Ons moet tyd maak om by Jesus stil te word sodat Hy ons kan leer, bemoedig en ons bekragtig kan word om dit te doen wat Hy wil hê ons moet. Mag ons ook soos Maria ons krag aan die voete van die Here kry en vandaar uitgaan om met die hart van Marta aktief deel te neem aan God se uitreikwerk. Laat ons die beste kies!