Preekskets 4 September 2022 Ds Jacques – God staan met begrip en medelye vir ons op


Teks:  Jesaja 30:15-29

Liedere:  192:1,2,3   214:1,2,3   191:1,2   464:1,2,4

Ons moet nogal baie keer in ons lewe wag.  Soms wag ons in ‘n ry om gehelp te word.  Ander kere wag ons weer vir iets om te gebeur.  Soms is ons gemaklik met wag, maar ander kere mag die gewag vir ons te veel word om te hanteer, as ons byvoorbeeld wag vir toetsuitslae wat ‘n dokter aangevra het.  Ons raak gefrustreerd en selfs bang.  Die “wat-as” vrae en scenario’s wat ons vir onsself voorstel kry ons onder. 

Ons weet ons moet God vertrou, maar soms maak ons omstandighede dit vir ons baie moeilik.  Dit voel of ons onder die omstandighede wankel.  Hierdie ongemaklike onsekerhede raak vir ons te veel.  Jesaja help ons om op ‘n ander manier na dit wat met ons gebeur te kyk.  Jesaja wil hê dat ons moet verstaan dat dit die Here self is wat ons laat honger ly en laat dors word.  Hy gebruik hierdie situasie om ons te leer. 

As ons dit kan regkry om die situasie so te sien raak ek nie verder gefrustreerd nie, maar besef ons dat ons onsself in ‘n fase van groei bevind.  Jesaja sê dat ons juis nou moet leer om na God uit te roep.  Vertel vir God hoe jy voel en hoe jy die dinge in ons lewe ervaar.  As jy nie woorde het nie, lees ‘n psalm of luister na geestelike liedere.  Praat met iemand wat vir jou omgee en wat verstaan.  Vertrou ‘n vriend of familielid.  Die ondersteuning van so iemand kan werklik baie beteken.  Vra iemand om vir jou te bid. 

Jesaja leer ons dat ons krag nie in onsself lê nie, maar eerder deur stil te word en te vertrou.  Die Bybel leer ons: “Soek julle krag in die Here en in Sy groot mag” (Ef. 6:10).  Ons word uitgenooi om God soos kinders te vertrou.  Om ons bekommernisse en vrese vir Hom te gee. 

Die model Christin is nie iemand wat oorloop van selfvertroue en onafhanklikheid, die een wat onaangeraak deur die probleme van die lewe gaan nie, maar eerder die een wat erken dat hy of sy swaarkry, wat erken dat hy of sy God nodig het en na God om hulp uitroep.  God wil hê dat ons Hom vertrou.  Jesaja herinner ons dat Israel dinge in hul eie hande wou neem, maar dit het nie gewerk nie.  Jesaja sê vir hulle dat God gretig is om genadig te wees en te help.  Die Here wil hom oor hulle ontferm.  Vertrou Hom!  Want dit gaan goed met elkeen wat op Hom vertrou.