Teks: Lukas 15:1-10
Liedere: 158:1,2,3 245:2,3 200:1,2 500:1,2,3
In die Skrifgedeelte is die Skrifgeleerdes en die Fariseërs besig om Jesus te kritiseer en te beskuldig. Hulle aanklag teen Hom is dat Hy besig is om saam met die verkeerde groep mense te kuier. Hy eet saam met sondaars en dit is vir hulle heeltemal onaanvaarbaar. Hulle is neerhalend en beskuldigend teenoor Hom. Hulle staan sterk op die oortuiging dat die volk van die Here ‘n heilige, eenkant en afgesonderde volk is en daarom nie met ander wat anders as hulle is, mag meng nie. Hulle is bang dat sonde en siektes op hulle kan afsmeer en hulle dan kan diskwalifiseer of hulle uit sluit van die groep waaraan hulle behoort. Die beskuldiging teen Jesus is dat Hy dan nou juis dit doen wat in die samelewing se oë nie toegelaat word nie. Hulle het aan ‘n uiterlike, sigbare, werke geloof geglo. Dinge kan jou onrein of onaanvaarbaar vir ander maak.
Jesus sê egter vir hulle dat dit nie die dinge is waaraan jy vat of dit wat jy eet wat jou onrein maak nie, maar eerder dit wat in jou hart aangaan. Wanneer hulle dus vir Jesus beskuldig oor Sy onaanvaarbare gedrag, is dit nie vir Hom ‘n verleentheid nie, maar eerder ‘n kompliment. Hy sê vir hulle dat Hy presies is waar Hy wil en moet wees. Hy is nie in die midde van hierdie mense omdat Hy onkundig is oor die voorskrifte en bepalings van die samelewing nie. Hy is tussen hierdie mense omdat Hy daar wil en moet wees. Hy is die groot geneesheer en Hy het gekom om die wat siek is te genees. Daarom is Hy tussen die wat Hom nodig het.
Dan wys Hy hulle op hul verkeerde ingesteldheid. Wanneer een van hulle ‘n muntstuk of ‘n skaap verloor, sal hulle alles doen om dit weer te vind. En wanneer dit gevind word is daar groot vreugde oor die verlore item, wat vir hulle groot waarde het, wat weer gevind is. Maar wanneer mense verlore gaan is daar geen erns by hulle om hierdie verlore mense te gaan vind nie, trouens hulle kritiseer eerder vir Jesus wat dit durf waag om die verlorenes te gaan vind. So mag en kan dit nie wees nie. Verlore mense is vir God net te veel werd om hulle aan hul eie genade oor te laat of te vermy.
Sondaars stroom na Hom om na Hom te luister. Hy bied vir hulle iets wat niemand anders nog ooit aangebied het nie: liefde, aanvaarding, verlossing. Dis hoeveel verlorenes vir God werd is. Hy gee Sy Seun om verlorenes te red. Mag ons dan enigsins anders oor verlore mense dink?