Teks: 2 Timoteus 1:1-14
Liedere: 184:1-4 198:1,2 450:1,2
Wanneer ‘n mens die eerste keer hoor dat jy ‘n ouer gaan word, is daar soveel opwinding en vreugde in jou hart. Almal sien na die groot dag uit en kan nie wat dat die nuwe kleinding gebore moet word nie. Wanneer die nuwe ouers egter oor die verantwoordelikheid wat op hul skouers gaan rus begin dink, die verpligtinge wat op hul wag en die onkunde waarmee hierdie nuwe paadjie moet stap, kan die uitdagings oorweldigend voel. Paulus voel so oor sy geestelike kinders, die gemeentes en die gelowiges wat deur sy bediening die Here begin volg het.
Paulus kon nie permanent by hierdie gelowiges bly nie. Sy opdrag is om as sendeling die Evangelie te versprei. Gevolglik skryf hy briewe aan hierdie gelowige kinders van hom, om hulle te motiveer en te onderrig. In hierdie brief aan Timoteus sê hy dat hy daarna verlang om Timoteus weer te sien. Hy sê dat hy dag en nag vir hom bid, sodat hy die Here met ‘n skoon gewete sal bly dien.
Hy herinner Timoteus aan die geloofspad wat hy tot hier gestap het. Dit het alles begin by ‘n ouma en ‘n ma wat die Here baie lief het en wat hom kon leer. Paulus verseker Timoteus verder dat die Gees van die Here hom met die nodige krag, liefde en selfbeheersing sal vul. Paulus bid dat die vlam van die Evangelie voortdurende hoog in Timoteus sal brand. Hy bid dat die vuur weer sal opvlam in sy hart en dat hy nooit sy ywer vir die Evangelie sal verloor nie.
Geloof is ‘n geskenk van God. God nooi ons om Hom te vertrou, om in Hom te glo, te glo dat Hy altyd getrou sal wees. Alhoewel daar ook ontberings op ons wag, mag dit nooit veroorsaak dat ons in God begin twyfel nie. Hy verseker ons van Sy liefde, Hy beantwoord ons gebede, deur Sy werk deur ons transformeer Hy die wêreld om ons en dan gee Hy ook vir ons die vaste sekerheid van die ewigheid wat op gelowiges wag. Daarom word Timoteus geroep om die wat aan hom toevertrou is te bewaar deur die krag van God se Gees in hom wat hom daartoe sal help. Dieselfde krag en skat is vandag steeds in ons. Ook ons word geroep om dit wat aan ons toevertrou word te bewaar en ware getuies daarvan te bly.