Teks: Matteus 9:35-38
Liedere: 199:1,2 232:1,2 212:1,2,3 528:1,2,3
Jesus se skedule was ongelooflik besig. Hy het geweet dat Hy net ‘n beperkte tyd tot Sy beskikking gehad het voordat Hy aan die kruis sou sterf. Daarom het Hy Sy tyd maksimaal benut. Hy het veral op twee sake tydens Sy aardse bediening gefokus. Aan die een kant het Hy mense onderrig deur te preek en die Skrifte uit te lê. Aan die ander kant het Hy mense se lewens aangeraak deur wonders te doen en mense te genees.
Hy kom na ‘n verwarde en stukkende wêreld en kom leer en wys vir mense hoe die alternatief kan lyk as God sentraal staan. Hy bring hoop in ‘n hooplose wêreld. Hy spreek die gemeenskap op alle vlakke aan. Hy doen dit omdat Hy die mense se geestelike nood raaksien en daardeur geraak word. Sy hart en siel word deur mense se stukkendheid en moedeloosheid geraak. Die woord “compassion” beteken letterlik “om saam swaar te kry”. Die Afrikaanse woord wat ons hiervoor gebruik is “empatie”.
In ons stukkende wêreld het ons vandag sterk leiers nodig wat die nood kan aanspreek, maar ons het veral leiers met empatiese harte nodig. Ons het mense nodig wat deur hul passie vir ander mense gedryf word, wat kan leiding neem en verandering kan bring. Geen ander mense kon nog ooit met soveel empatie soos Jesus optree nie, maar ons kan na Sy bediening kyk en na Sy woorde luister en dan in Sy voetspore volg. Ons kan ook met die oë van God begin kyk en met die hart van Jesus begin saam voel. En hierdie leer en voel hoef en mag nooit net deur leiers gedoen word nie. Elke liewe mens wat vir Jesus lief is, moet deel raak van Sy empatiese omgee span, wat verandering in die wêreld moet bring. Jesus sê self vir ons dat die oes groot is, maar dat die arbeiders is baie min is. Hy word aangeraak deur die mense wat soos herderlose skape rond dwaal, opsoek na hulp, Hy kom wys ons op die moontlikhede vir diens. Hy kom leer ons en demonstreer vir ons hoe om dit te doen. Kom ons luister en leer by Hom. Kom ons evalueer ons eie lewe in Lydenstyd en plaas onsself in Sy hande, tot Sy beskikking, om so te help om die oes, waaroor Hy so besorg is, vir ons Hemelse Vader te help inbring.