Teks: Matteus 27:15-61
Die skrifgeleerdes en priesterhoofde het saamgespan om Jesus te laat vermoor. Hy word aan Pilatus oorgelewer om verhoor te word. Hulle het geen ander keuse as om hierdie roete te volg nie, want die Romeine beheer die regering en net hul aangestelde amptenare mag so ‘n vonnis voltrek. Pilatus geniet hierdie verhoor, want hy is nie juis geïnteresseerd in die Jode se interne godsdiens nie. Hy vind hierdie man voor hom amusant. Hy vra hom uit en sê dan later ook dat hy geen skuld in Hom kan vind nie.
Intussen is die leiers van die Jode besig om die skare op te sweep en Pilatus kom agter dat moeilikheid op pad is. Hy wil nie regtig vir Jesus vonnis nie, maar hy kan ook nie die skare en die leiers ignoreer nie. Nou besluit hy om die gebruik om ‘n gevangene tydens Paasfees vry te maak te gebruik om Jesus ‘n kans te gee om los te kom. Hy bring vir Barnabas uit en laat die mense tussen die twee kies. Teen alle verwagting roep die skare uit dat Barnabas vrygelaat moet word. Hy is oorbluf. Dan kom sy vrou ook nog sê dat hy niks aan die onskuldige man moet doen nie. Die situasie is heeltemal buite beheer. Hy begin by die skare pleit. Wat het die man gedoen? Maar hulle is verby rede en roep uit: Kruisig Hom!!
Pilatus was sy hande in onskuld en sê dan moet hulle maar met Jesus doen wat hulle wil. Hulle roep uit dat Jesus se bloed maar op hulle en hul kinders kan afkom. Hoe ironies. Dis juis wat Jesus aan die kruis gaan doen. Sy bloed vir alle mense stort. En Barnabas verstaan dalk die beste wat dit beteken dat Jesus in sy plek as die losprys geoffer word.
Jesus word verder verneder en verniel. Hy word met ‘n kleed bedek en ‘n stok in die hand gedruk. ‘n Doringkroon word op Sy kop gesit. Almal spot en lag. So gaan dit aan totdat Hy aan die kruis vasgespyker word. Dan volg ongewone donkerte en die voorhangsel skeur. Almal is tevrede. Hulle dink hulle is van die “Jesus-probleem” ontslae. Maar gelukkig was dit net Vrydag. Jesus word wel in ‘n graf geplaas, maar die oorwinning lê nog voor. Dit alles het Hy deurmaak om vir u en my, vir die hele mensdom as Redder op te tree. So groot is ons God en Sy liefde vir ons.