Teks: Numeri 11:24-30
Liedere: 184:1-4 417:1,2 436:1-3
In Numeri 11:1 kla die Israeliete knaend by Moses. Dit raak so erg dat God die kamp met ‘n vuur tref. Hulle noem die plek Tabora: Vuur van die Here het teen ons ontvlam. In vers 4 kla hulle alweer. Kan ons tog net ‘n stukkie vleis kry. Die lewe in Egipte was verseker baie beter as die swaar lewe in die woestyn. Waarom is ons hierheen gebring? Moet ons hier kom sterf? Dan ontvlam God se toorn weer. Dit alles gebeur baie kort nadat hulle op wonderbaarlike wyse uit Egipte bevry is. Hier het hulle God in al Sy mag en glorie gesien. En tog vergeet hulle so gou en kla omdat hulle nie gelukkig is met die omstandighede waarin hulle vryheid hulle nou geplaas het nie.
Moses moet hierdie klagtes dag en nag aanhoor. Hy kom by ‘n punt waar hyself handdoek wil ingooi. Hy sien eenvoudig net nie meer kans vir hierdie aanhoudende gekla nie. Hy sê selfs vir God dat dit vir hom beter sal wees om eerder te sterf as om so te moet aangaan. As die Here hom eerder sal dood maak sal dit vir hom genadiger wees.
Nou gryp God in deur 70 man aan te wys wat vir Moses met die volk gaan help. Met die helpers hoef hy nie meer alleen vir almal verantwoordelik te wees nie. God wys vir Moses dat Hy verantwoordelik is en bly vir Sy kinders. Hierdie mans word na die tabernakel geneem en daar ontvang hulle die Heilige Gees. Die Gees gee vir hulle die vermoë om as profete op tree. Selfs die 2 mans wat aangewys is en nie saam gaan nie, word met die Gees vervul en begin in die kamp profeteer. Die mense is heel verskrik en Josua gaan së vir Moses dat hy vir hulle moet së dat hulle moet stop. Die Gees vang die mense en vir Josua onkant. Hulle het dit nie verwag nie. Moses is dankbaar want hy het nou die nodige hulp om die volk verder te kan lei. Ons voel ook soms so oorweldig soos Moses. Dinge raak vir ons ook soms te veel. Leer by Moses. Nader God en vra en vertrou Hom vir die nodige uitkoms en hulp. Bly afhanklik van Hom. Net dalk verras sy Gees jou ook.