Teks: Psalm 118:1-14
Liedere: 200:1-3 455:1,2 521:1,2
Psalm 118 is reg in die middel van die Bybel. As ‘n mens al die verse in die Bybel tel, is Psalm 118:8 presies in die middel van die Bybel. Dit is sekerlik nou nie so ‘n belangrik feit om van kennis te neem nie. Wat dalk veel eerder van belang is, is om te hoor wat hierdie vers vir ons sê. Hierdie vers leer ons: “Om by die Here te skuil, is beter as om op mense te vertrou”.
In hierdie Psalm kry ons ‘n kryger wat op die punt staan om in ‘n geveg betrokke te raak. Hy is gewoond daaraan om te wen, maar hy sien sommer gou dat hierdie geveg in ‘n ander klas is. Hy gaan nie lewendig uit hierdie geveg kom nie. Hy is moedeloos en weet nie wat om te doen nie. Dit is juis dan wanneer hy na die Here om hulp roep. Dis dan wanneer hy voor die Here staan en aan die Here verklaar dat hyself nie raad het nie. Hy is magteloos en al wat hy nou kan doen is om sy vertroue volkome op die Here te plaas.
Hierdie patroon word so baie in die Bybel gevind. Dit lyk asof dit die Here se voorkeur manier van doen is. Hy wil hê dat ons volledig op Hom moet vertrou en dan beleef hoe Hy vir ons die uitkoms gee. Dis eers wanneer ons heeltemal sonder enige plan of moed voor Hom staan, dat ons dit werklik kan regkry om volledig oor te gee en Hom te vertrou. Voor dit probeer ons nog self planne maak of selfs op ander mense reken om ons uit die moeilikheid uit te help. Hierdie Psalm gaan dan oor in ‘n danklied, waar die skrywer die Here erken en aanbid as die Oorwinnaar. Dit is tog hoe ons elkeen ons lewe moet leef. Dit hoef egter nie nodig te wees dat ons eers in sulke diep moeilikheid moet beland voordat ons volledig op die Here vertrou nie. Op vadersdag sê ons aan ons vaders dankie vir die wat hulle vir ons beteken en doen. Om werklik vaderskap te verstaan en ‘n voorbeeld vir jou kinders te wees, moet jy leer om so afhanklik van God te wees en Hom volledig in jou lewe te vertrou. Dan kan jy hierdie vertroue ook aan jou kinders demonstreer en oordra. Want God bly die Groot Versorger.