Teks: Psalm 136
Liedere: Flam 105, Lied 139:1,3,4 200:1,2,3
God is die Groot Hallel. Die Groot God wat geëer moet word. Van hierdie Hebreeuse woord kry ons dan ook die woord “halleluja”, waarmee ons opgeroep word om ere aan God te bring. Hierdie Psalm word gekenmerk deur die oproep om die Here aan te roep en te aanbid, omdat daar aan Sy liefde geen einde is nie. Hierdie Psalm is saam met van die ander Psalms tydens Joodse feeste gelees of gesing. Dit was een van die bekendste Psalms wat gereeld in die sinagoges gehoor is.
Wat hoor ons in die Psalm. Die skrywer sê vir ons dat God getrou is. Hy was nog altyd in die geskiedenis getrou. Die skrywer neem ons in die Psalm op ‘n kort reis deur die geskiedenis van Israel. In elkeen van die groot momente in die geskiedenis was God daar. Daarom kan daar na elkeen van hierdie versreëls uitgeroep word: “Aan die liefde van die Here is daar geen einde nie”.
Van die skepping, deur Egipte, deur die woestyn tot by die beloofde land was God in Sy getrouheid daar. God is getrou wanneer mense slawerny-tye beleef, maar Hy is ook getrou wanneer die bevrydings-tye aanbreek. Selfs as ons ons rug op Hom keer en van Hom afdwaal, bly Hy getrou. Wanneer ons voel dat die lewe vir ons te veel raak en dit voel of ons aanvalle in ons lewe beleef, is die Here daar. In elk faset van ons lewe is die Here hier reg langs ons. Daarom kan die skrywers afsluit deur te sê dat God se trou tot in ewigheid duur. Ons leef vandag, baie jare nadat hierdie Psalm geskryf is. Ons konteks en omstandighede verskil hemelsbreed van die konteks en omstandighede van die Jode vir wie die Psalm in die begin bedoel is. Tog is die Here oor wie die Psalm gaan, nog al die tyd dieselfde Here. Hy is ook vir ons die Getroue. Daarom kan ons ook ons lewensstorie by hierdie reëls byvoeg. In ons eie lewe is en was die Here ook nog altyd getrou. Ons kan na ons lewe kyk en die Here die en eer vir wat Hy vir ons gedoen het, en in die toekoms gaan doen, want waarlik, aan Sy liefde is daar geen einde nie.