Teks: Lukas 22:14-20
Liedere: 168:1,2,3 167:1,2 171:1,2 421:1,2,3
Mense hou daarvan om spesiale geleenthede te onthou en te herdenk. Ons hou daarvan om toekennings, trofees, bekers en sertifikate uit te deel en te ontvang. Ons graveer of skryf dan ‘n naam en ‘n datum hierop neer om die geleentheid te verewig. Herinneringe is spesiaal. Dit verbind ons weer aan daardie dag en geleentheid.
Die kruis-gebeure is ook ‘n herinnering van wat by Golgota gebeur het. Jesus is saam met Sy dissipels. Hulle maak gereed om die Joodse Pasga te vier. Vir baie jare is daar ‘n spesifieke manier waarop hulle dit doen. Jesus het dit ook so saam met Sy familie en ook later saam met Sy dissipels gevier. Die Jode het terug gedink aan die bevryding uit Egipte. Hulle was slawe onder Farao. Dan stuur die Here vir Moses om hulle te bevry. Farao wil nie ingee nie en die Here gebruik 10 plae om Farao tot ander insigte te bring.
Met die tiende plaag, die sterfte van die eersgeborenes, word Israel uiteindelik bevry, Die volk moes egter ‘n lam slag en die bloed aan die deurkosyne smeer. Dit was dan die teken vir die engel van die Here om hul huise oor te slaan. Hulle moes ook vinnig eet, lamsvleis van ‘n lam sonder enige gebrek, gegeur met bitter kruie en ongesuurde brood. Hulle moes haastig pak en vertrek. Jaarliks is hierdie bevryding deur die Jode herdenk.
Jesus is saam met Sy dissipels. Hulle maak gereed om weer die fees te vier, maar dan gebeur iets interessants. Jesus neem die tekens op die tafel, dank God daarvoor en sê dat dit tekens is wat op Hom dui. Hy is die Ware Paaslam. Sy liggaam gaan gebreek word en Sy bloed gaan vloei as bevryding of versoening vir alle mense. Die dissipels het heel moontlik nie presies besef wat Jesus eintlik nou vir hulle sê nie, maar na Jesus gekruisig is en uit die dood opgestaan het, was daar geen onsekerheid meer by hulle nie. Van daardie dag af het Paasfees vir hulle nuwe betekenis. Dit is dan ook die boodskap wat hulle met hulle saam neem wanneer hulle die Evangelie die wêreld in neem. Jesus is die gekruisigde. Hy is die Verlosser. Herdenk dit. Verkondig dit. Moet dit wat Hy vir ons kom doen het nooit vergeet nie.