Preekskets 17 September 2023 Ds Jacques – Sy lig wat lewe bring.


Teks:  Johannes 8:12-20

Liedere:  271:1,2

Jesus bring lig in ‘n baie duister wêreld.  Dink net aan al die wonders wat Jesus doen wanneer Hy hier op aarde tussen mense is.  Mense se lewens is stukkend en Hy kom letterlik genesing bring vir hierdie mense.  In alles wat Jesus vir die mense doen, bring Hy hoop.  Tog is dit vir ons moeilik om altyd die lig raak te sien wanneer ons onsself in die duisternis bevind. 

Daar is ‘n Sweedse idioom:  kärt besvär.  Die woord kärt het die betekenis van – geliefd, kosbaar, gekoester.  Die woord besvär het weer ‘n teenoorgestelde betekenis – pyn, verlies, hartseer.  Dit is vreemd om te dink dat die Swede hierdie twee woorde aan mekaar verbind en daarvan ‘n idioom maak.  ‘n Mens sou dink dat hierdie twee woorde nie eintlik by mekaar pas nie.  Die bedoeling is egter dat alles in die lewe nie altyd net heeltemal positief of heeltemal negatief is nie.  Elke donker wolkie het ‘n silwer randjie.  As ek byvoorbeeld aan die einde van die maand my rekeninge moet betaal, kan dit vir my pynlik wees.  Maar as ek eerlik met myself is, kan ek nie anders as om baie dankbaar te wees vir die situasie waarin ek myself bevind nie.  Ek het ‘n werk.  Ek verdien ‘n inkomste.  Ek is in ‘n posisie om my rekeninge te kan betaal.  Ek het die gesondheid om my werk te kan verrig.  So kan ‘n mens in elke situasie vir die silwer randjie in ‘n moeilike situasie soek. In Johannes 12:46 sê Jesus:  Ek het as die lig na die wêreld toe gekom, sodat die wat in My glo, nie in die duisternis sal bly nie.  Jesus verseker vir ons dat Hy vir ons die moontlikheid kom skep het om in duisternis lig te beleef en in die lig te leef.  Maar dan moet ons oë oop wees om die lig raak te kan sien.  Ons kan nie net die heeltyd die donker wolk raaksien en dink dinge sal beter word nie.  Daar is ‘n silwer randjie.  Jesus het dit vir ons kom gee.  Ons is Sy verteenwoordigers wat hierdie lig in ons dra en wat meewerk om die duisternis met die lig ons te verdryf.  Hy beloof om ons elke tree van hierdie lewenspad te lei.  Vertrou Hom.