Teks: Handelinge 19:1-10
Liedere: 207:1,3 464:1,3,4 502:1,4
In ‘n 1933 hofsaak het ‘n geweldig interessante ding gebeur. Alhoewel George Wilson deur die hof skuldig bevind is vir misdade wat hy gepleeg het, is hy tog weens die ingryping van ‘n goeie vriend deur die president van die land begenadig en vry verklaar. Teen alle verwagting het hy egter geweier om dit te aanvaar. ‘n Verdere hofsaak het gevolg waarin die hof bevind het dat begenadiging ‘n vergunning aan ‘n misdadiger is Daarom kan die vergunning het in werking tree indien die begenadigde dit vir homself aanvaar.
Hierdie verhaal herinner ons aan Jesus se genade vir elkeen van ons. Net soos George Wilson is almal van ons ook skuldig. Ons weet dat die straf op ons oortredings vir ons wag. Daar is nie vir ons enige uitkoms nie, maar deur Jesus wat as Middelaar vir ons intree, word begenadig en deur God vry gespreek. Hierdie vryspraak is vir elke mens, maar nie alle mense gaan dit aanvaar nie. Dis so hartseer. Dis soos George Wilson wat dan steeds in die tronk bly sit, alhoewel hy die vergunning van die hoogste gesag af ontvang het om as ‘n vry man uit die tronk te stap.
Wanneer Paulus in hierdie teks oor sy ervaring praat, sê hy vir ons dat die mense wat na sy boodskap luister op verskillende maniere reageer. Daar is die wat dink sy boodskap is belaglik. Hulle lag vir hom en probeer sy boodskap in die openbaar benadeel. Dan is daar die wat aandagtig luister, die vir wie die boodskap baie interessant is, maar wat nie hul harte raak nie. Laastens is daar die groep, die 12, wat aangeraak is deur die boodskap, hul harte vir Jesus gee, in die naam van Jesus gedoop word en hulself dan tot God se beskikking stel. Hulle word deur Paulus opgelei en uitgestuur om oral te gaan en dieselfde boodskap te gaan verkondig. Vir ons word dieselfde uitdaging gestel. Vertrou God, stel jouself tot Sy beskikking, laat Sy Gees beheer neem van jou lewe, gee jou energie en tyd vir Hom. So raak ons mede-werkers in die span van God wat bydra om die wêreld te verander.