Preekskets 10 Desember 2023 Ds Jacques – ‘n Seun is vir ons gegee


Teks:  Jesaja 9:1-6

Liedere:  353:1,2,3  350:1,2,3  365:1,2,3

Vir baie mense gaan Kersfees net oor die vrolikheid was hierdie tyd van die jaar bring.  Die “holiday season”.  Mense praat van die groot dae. Mense is dankbaar vir rustiger tyd wat ons nou ingaan.  Die skole het gesluit en die meeste mense het ‘n week of twee af by die werk.  Dit bring ‘n groot vrolikheid ons mense. 

Ongelukkig is hierdie vrolikheid net van tydelike aard.  Januarie lê en wag.  Dan sien ons weer die advertensies vir die “back-to-school” en mense is terug by die werk.  Miskien is ‘n goeie vraag wat ons vir mekaar moet vra:  Hoe lank hou hierdie vrolikheid waarna ons hier teen die einde van die jaar uitsien?  Ongelukkig vir die meeste van ons net vir ‘n week of twee of dalk drie.  Dan breek die nuwe jaar met sy nuwe 365 dae met al die uitdagings en verpligtinge aan.

As ons na die Bybel kyk sien ons dat die Bybel ons leer dat Kersfees oor iets heeltemal anders en veel beters gaan.  Kersfees gaan oor die koms van die Grootste Geskenk na die wêreld.  God wat Sy eie Seun vir ons stuur om die mensdom van alle sonde en die dood te kom red.  As ‘n mens aan Hom vashou en Sy redding verstaan, bring ‘n verhouding met Hom vreugde en vrede.  Hierdie vreugde en vrede is ewig, soveel beter as die vrolikheid en joligheid waarna die meeste mense teen die einde van die jaar uitsien.  Met Sy koms na die wêreld het daar ‘n groot verskuiwing van mag plaasvind.  ‘n Onbereikbare God het nou deur Sy Seun naby aan die wêreld gekom.  Sondige mense het ‘n geleentheid gekry om in verhouding met God te tree.  Die skeiding wat daar bestaan het is deur Jesus se koms oorbrug.  Ons kan ons nie eers voorstel hoe wyd die reikwydte van Jesus se lig en liefde is nie.  Deur Jesus se koms na die wêreld plaas God Sy genade binne die bereik van elke mens wat in Hom glo.  Elkeen wat in Hom glo kan dit ontvang en in die verloste verhouding met Hom staan.  Dit is die hoop wat Kersfees vir ons inhou en vir ons bring.  God het Sy eie Seun vir ons vir hierdie rede gegee.  Kom ons dank Hom daarvoor.