Teks: Romeine 5:12-19
Liedere: 390:1-4 190:1-3 582:1,3,4
Sonde het ‘n groot kloof, ‘n onoorbrugbare kloof tussen ons en God veroorsaak. Ons sien en beleef die chaos magte om ons. Ons vra dan ook noodgedwonge die vraag oor wie of wat die wêreld beheer. Sonde is nie net ‘n klad op ons naam nie, maar ‘n mag wat ons oorheers. Ons leef in hierdie wêreld waar sonde die kloof tussen ons en God veroorsaak, die sonde wat tot die dood lei. Deur die ongehoorsaamheid van Adam en Eva het die sonde en daarmee saam die dood toegang tot die mensdom verkry.
Daar is ‘n genadegawe. Hierdie genadegawe gee vir ons hoop. God wil ons red. Hoofstukke 5 tot 8 van Romeine spel vir ons die gevolge van God se vryspraak in ons lewe uit. Hoofstuk 5:1-11 sê vir ons dat vrede tussen ons en God moontlik is. God voorsien hierdie hoop deur Sy eie Seun as die offer of prys vir ons vryheid te gee. Soos wat die sonde en die dood deur die een mens Adam na die wêreld gekom het, kom die genadegawe en vryheid deur die Een mens Jesus na die wêreld. Deur Hom gaan die poort van genade oop en is daar vir ons uitkoms, redding, lewe. Waar die sonde se uiteinde die dood is, is Jesus se koms vir ons die weg na hoop, na die Ewige Lewe.
Deur Hom voer genade heerskappy, ook oor die dood. Dis ‘n heerlike vertroosting om die sekerheid te hê dat so ‘n toekoms vir ons deur die koms van Jesus Christus moontlik is. Genade is altyd groter as die mag van die sonde. Die genade wat Jesus bring kanselleer nie net die uitwerking van sonde uit nie. Genade bring ook herstel. ‘n Nuwe toekoms saam met God. ‘n Ewige Lewe saam met God. Genade het sonde kom verslaan en die mag van die dood gebreek. Daarmee saam het genade vir ons vryheid en oorvloed kom skenk. Saam met Christus regeer gelowiges nou in die nuwe koninkryk wat Jesus in die wêreld kom skep het. So ons kan dus die vraag beantwoord: Wie is in beheer van die Wêreld? Natuurlik Jesus! Gelowiges se status is deur Jesus se opwekking uit die dood verander. Nou is ons taak om Jesus se koninkryk hier op aarde te kom vestig en sigbaar te maak, sodat die Onse Vader gebed waar kan word: Laat U koninkryk kom, soos in die hemel, net so ook hier op aarde.