Teks: Lukas 22:24-30 en 24:1-9
Liedere: 417:1,2 411:1,2,3 422:1,2,3 414:1,2
Voor die laaste maaltyd wat Jesus saam met Sy dissipels het, dieselfde maaltyd waar Hy die nagmaal instel en aan hulle verduidelik wat die ware betekenis van die elemente op die tafel is, sak Hy eers op Sy knieë neer, neem ‘n skottel met water en ‘n doek en begin Sy dissipels se voete was. Na die ete is die eerste ding wat die dissipels doen, om met mekaar te argumenteer oor wie die belangrikste in die Koninkryk van God gaan wees. Die dissipels wonder hieroor, terwyl Jesus besig is om aan hulle te leer en te demonstreer hoe Hy oor grootheid dink. Hy wil hulle deur die was van hulle voete wys dat Hy ‘n dienende leier is en dat Hy van hulle verwag om ook dieselfde ingesteldheid as Hy te hê.
Jesus het in die tyd wat Hy saam met hulle deurgebring het voortdurend geleer hoe Hy oor belangrikheid dink, wat die dinge is wat vir God belangrik is. Dit gaan nie oor posisies en titels nie, maar oor die uitleef van God se liefde teenoor alle mense. Dit is die kriteria wat Jesus vir belangrikheid gebruik. Dit is waaraan Hy mense se belangrikheid meet. Nie die belangrikheid wat die wêreld as maatstaf gebruik nie.
Jesus reageer dan deur vir Sy dissipels te sê dat Hy teleurgesteld is oor die manier waarop hulle met mekaar argumenteer. Hulle maak net soos wat wêreldse leiers maak. Hy wil dit vir hulle onderstreep dat volgelinge van Hom nie so is nie. Sy volgelinge behoort nie so op tree nie. Sy volgelinge behoort na Hom en Sy optrede te kyk en dan soos Hy te maak. Ons moet besef dat Jesus Sy lewe vir die verlossing van alle mense aflê. Hy het nie aan Sy aardse lewe vasgehou nie, maar dit vrywilliglik afgelê omdat mense vir Hom so belangrik is. Hy het nie met ‘n groot vertoon in Jerusalem aangekom nie, maar op die rug van ‘n nederige donkie ingery. Die punt wat Hy dan maak is dat as Hy as die heel grootste leier, as die verlosser van die mensdom, so maak, hoeveel te meer word dit dan nie van Sy volgelinge verwag nie. Hy is die Hoof, nie ons nie. Hy lei en ons volg. Die dood is deur Hom verslaan en steeds tree Hy net in diensbaarheid op. Kom ons volg Hom dan net so.