Preekskets 14 April 2024 Ds Jacques – Slaap rustig, want God sorg vir ons


Teks:  Psalm 4

Liedere:  157:1,2  168:1,2  212: 1,2,3

God is sterker as die sterkste.  God is wyser as die wysste.  God is beter as die beste.  Daarom kom niks God verras nie.  Niks is bo Sy vuurmaakplek nie.  Hoekom is hierdie Psalm dan nodig?  Alhoewel ons al hierdie dinge van God weet, is die lewe nie altyd maklik nie.  Daar kom probleme oor ons pad en dit het die gevolg dat ons soms begin twyfel.  Hierdie Psalm leer ons om God te besing in moeilike tye.

Hierdie Psalm is deur Dawid geskryf in ‘n baie moeilike tyd in sy lewe.  Alhoewel dinge regtig nie maklik is vir hom nie, terwyl hy moontlik besig is om te vlug voor sy seun Absolom, praat hy tog in hierdie Psalm van vrede en sekuriteit.  Die hooftema van hierdie Psalm is dat probleme altyd om ons sal wees, maar gelowiges vind hul veiligheid en sekuriteit in God.  Juis wanneer ‘n mens deur ‘n moeilike tyd gaan, is ‘n Psalm soos hierdie, so belangrik.  Tog is dit nie die ideale tyd om eers in die moeilike tye te begin leer hoe om op God te vertrou nie.  Dis soveel beter om Hom as jou ware anker te leer ken en vertrou voordat die moeilike tye jou tref.  Dan weet jy waarheen om te draai wanneer die swaarkry jou tref.

Dawid waarsku ons dat die antwoord selde daarin lê om self te wil vergeld nie.  Dis menslik om iemand terug te kry vir wat hy of sy aan jou gedoen het.  Dit mag jou dalk laat beter voel, want hulle kry wat hulle verdien.  Die gevaar is egter dat net meer en meer mense in die proses seer kry.  Waar eindig vergelding?  Wanneer is dit genoeg?  Dawid sê dat ons eerder by die waarheid moet bly en in gebed voor God buig.  Vertrou op God.  Vertrou God vir alle dinge in jou lewe.  Dan kry jy dit ook reg om in die swaar tye na Hom te draai en op Hom te vertrou.  Dit is om by die waarheid te staan.  Dit is om in vertroue, in gebed voor God te buig.  Want wanneer ons na God uitroep, hoor Hy ons gesmeek.  Ons plaas ons vertroue in God want ons ken Sy karakter.  Dit bring dan vreugde in ons hart.  Hy is goed.  Hy is ons God.  Daarom kan ons rustig slaap as ons ons bekommernisse voor Hom neersit.