Teks: Handelinge 8:26-40
Liedere: 257:1,2,3 274:1,2 268 309:1,2,3
Dis altyd lekker om ‘n nuwe stokperdjie of vaardigheid te begin. ‘n Mens ontdek iets nuuts en dis so lekker om dan te beleef hoe ‘n mens al vaardiger in die verband raak. Dit is dan baie belangrik om selfstudie oor die stokperdjie of vaardigheid te doen. ‘n Mens lees boeke, kyk na YouTube video’s en probeer soveel as moontlik materiaal in die hande kry om jou hiermee te help. Maar selfstudie kan jou ook net so ver bring. ‘n Mens oefen die dinge wat jy gesien het en waaroor jy gelees het, maar soms haak jy vas en is sekere dinge net te moeilik om self reg te kry. Dan besef ‘n mens hoe waardevol dit is om iemand wat meer ervaring as jy het te vind wat jou sekere dinge kan wys. Iemand wat jou kan wys waar jou fout lê of wat net vir jou ‘n makliker manier kan leer om hierdie moeilike stappe te kan voltooi.
In hierdie verhaal kry ons ook ‘n man wat met selfstudie besig is en wat dan vashaak, omdat dit wat hy lees vir hom te moeilik is om te verstaan. Hy het ‘n persoon nodig om hom te ondersteun en dit wat hy lees vir hom uit te lê. Die persoon word gevind in Filippus. God besef dat hierdie man ‘n hooggeplaaste amptenaar is wat die waarheid van die Evangelie met hom kan saamneem en in Etiopië sal kan verkondig. Natuurlik is die bekering van die man baie belangrik, maar dit is ook ‘n man wat in ‘n posisie is, waar sy invloed gebruik kan word om die Evangelie aan ‘n hele land te kan verkondig. God reël nou ‘n spesiale ontmoeting tussen Filippus en hierdie man, op ‘n afgeleë roete. Hierdie belangrike ontmoeting verander die man se hele lewe. Hy snap die betekenis van die teksgedeelte en gee sy hart net daar op die plek aan Jesus. Hy vra om gedoop te word en hy gaan met groot vreugde verder op sy reis. Ons leer 3 belangrike dinge in hierdie verhaal. Eerstens moet ons as gelowiges altyd bereid wees om te help. Elke ontmoeting met ‘n ander mens mag dalk net ‘n unieke, goddelike ontmoeting wees. Tweedens sien ons dat dit nie ‘n skande is om vir hulp te vra nie. In die hulp ontdek jy dalk net dit wat jou hele lewe kan verander. Derdens sien ons hoe God harte oopmaak en deure oopsluit vir Sy Evangelie. So werk die wonderlike krag van God se Woord vandag nog in mense se lewens.