Teks: Psalm 98
Liedere: 467:1,2 220:1,2 475:1,2
Psalm 98 vorm deel van die Konings-Psalms, wat strek van Psalm 93 tot 100. Hierdie Psalms beklemtoon God se koningskap op verskillende maniere. ‘n Mens kan nie hierdie Psalm lees sonder om sommer weer beter te voel nie. Die Psalm word in 3 dele verdeel:
- Bring ere aan die Here wat magtige dade doen
- Bring ere aan die Koning van die hele aarde
- Die Here regeer oor die hele wêreld met genade en in waarheid
God doen voortdurend nuwe dinge in Sy mense se lewens. Daarom word mense opnuut opgeroep om Hom te aanbid vir hierdie nuwe dinge wat Hy vir ons doen. God is ons Redder en ons plaas ons vertroue op Hom. Dis Hy wat vir ons die oorwinning gee, deur die werking van Sy Seun Jesus Christus. Hy maak Sy magtige dade aan ons bekend, ook nog vandag. Sy beloftes en sorg het nie net in die tyd van Israel gegeld nie.
Tot aan die einde van die wêreld sal hierdie voorsiening, sorg en oorwinning van die Here gesien word. Die ere wat ons aan Hom gee, leer alles nasies om Hom te leer ken en dan saam met ons ere aan Hom te bring. Die hele Bybel is vol verhale van hierdie Here wie se glorie oor die hele wêreld strek. Ons eer moet nou uitbars in jubelende sang en blydskap. Ons word gevul met vreugde oor ons Koning. En dis asof ons onsself nie meer kan inhou nie. Vanuit ons binneste forseer hierdie oorheersende vreugde aanbidding uit ons uit. Hierdie Here heers en regeer met genade en in waarheid oor die hele aarde. Hy is die Skepper God en die natuur elemente roep saam uit dat Hy geëer moet word. Die rede daarvoor is juis omdat Hy deur genade en in waarheid regeer. Hy tree as regter op. Hy kom maak alles reg. Alles wat vals is word deur Hom uitgewys. Geweld en onreg sal veroordeel word. Ons as Sy skepsels en die hele skepping saam met ons, verkondig dit in vreugde oor die aarde. Hy is vir ons goed. Daarom word ons geroep om ‘n nuwe lied tot Sy eer te begin sing. Kom ons sing dan nou ‘n jubelende vreugdeslied, juis omdat ons nie anders kan nie, want Sy vreugde is borrelend teenwoordig in ons harte.