Preekskets 12 Mei 2024 Ds Jacques – Wat op aarde maak jy hier?  Wat gaan jy doen met jou een en enigste lewe?


Teks:  Jeremia 20:7-18

Liedere:  439:1,2  434:1,2,3  435: 1,2

Jaarliks word die uitstorting van die Heilige Gees tydens Pinkster herdenk.  Met die uitstorting van die Gees word die kerk gebore.  Met ‘n kragtige stormwind en vuurtonge op die dissipels, ontvang hulle die Heilige Gees.  Waarom herdenk ons hierdie gebeurtenis elke jaar?  Aan die een kant omdat dit ‘n historiese gebeurtenis is en ons wil dit daarom graag onthou, maar aan die ander kant onthou ons watter vernuwing en herlewing die Gees onder die mense gebring het.  Daarom hoop ons dat daar ‘n herhaling hiervan in die kerk sal wees. 

In Pinkstertyd is ons besig om te soek en te vra na ons funksie in hierdie wêreld.  Wat maak ek hier of waarvoor het God my in hierdie wêreld geplaas?  Wat is my roeping of taak?  Jeremia het geworstel met sy roeping.  Die Here het hom in ‘n baie moeilike tyd met ‘n baie moeilike boodskap na die Jode gestuur.  Hy was huiwerig om die roeping as profeet te aanvaar.  Oor die jare het hy as die huilende profeet bekend begin staan, juis oor die swaar boodskap wat hy moes oordra.  Sy boodskap was dat God die volk gaan oordeel omdat hulle nie hulself aan Hom steur nie.  Totale verval het in die gemeenskap plaasgevind, op godsdienstige, sosiale en morele gebied.  Die Here se geduld is nou op en die volk gaan alles verloor.  Hulle gaan in ballingskap weggevoer word en Jerusalem en die tempel gaan verwoes word.  In stryd met die vals profete wat gesê het dat die Jode God se volk is en daarom sal hulle niks oorkom nie, alles gaan weer regkom, profeteer Jeremia dat dinge baie sleg gaan raak.  Hy kan nie anders nie.  Hy moet die waarheid praat.  Jeremia bid vir geregtigheid.  Hy verwens sy geboortedag.  Ondanks alles is daar steeds hoop.  En dis hierdie hoop wat hy vir die Jode moet verkondig.  As hulle tot inkeer kom, sal God weer herstel bring  Die boodskap van Jeremia is dalk goed vir ons tyd.  Ons sien ook morele, godsdienstige en sosiale verval.  Dinge kan nie so aangaan nie.  Ons moet terugkeer na God.  Maar gelukkig, soos wat Jeremia ons leer, is daar altyd hoop as ons ons aan die Here vas hou.