Preekskets 26 Mei 2024 Ds Jacques – Ons is hier vir die toekoms


Teks:  Jeremia 32:1-15

Liedere:  200:1,2,3  214:1,2,3  268  265:1,2

In ‘n tyd van dreigende oorlog, doen Jeremia ‘n baie vreemde ding.  Wie sal dink om grond te koop wanneer die oorlogswolke saampak, die vyand al reg teen jou stad se muur stelling ingeneem het?  Mense verloor alles en het geen hoop nie.  Die vyand is heeltemal te sterk en gaan alles van die Israeliete afvat.  Die koning kla by Jeremia.  Hy wil goeie nuus hoor.  Omdat Jeremia nie vir hom sê wat hy wil hoor nie, word Jeremia onder huisarres geplaas. 

En dan hierdie ongelooflike simboliese daad.  ‘n Desperate familielid wil sy grond verkoop.  Dalk het hy gehoop om iets daarvoor te kry en darem ‘n paar munte in sy sak te hê as hulle na ‘n vreemde land weggevoer word.  Sonder huiwering koop Jeremia die grond.  Hy stel ‘n ordentlike koopooreenkoms op en teken dit.  Die man ontvang sy volle koopsom.  So demonstreer Jeremia sy vertroue in God, dat Hy weer herstel gaan bring.  Jeremia raak self ‘n gevangene.  Tog verkondig hierdie kragtige daad dat hy hoop vir die toekoms het.  Hy bly getrou aan God in hierdie uitdagende tye. 

Sy optrede pas nie by die werklikheid nie.  Niemand sou hom kwalik geneem het as hy geweier het om die grond te koop nie.  Tog tree hy in gehoorsaamheid op en met die daad van sekerheid en vertroue in sy God, is dit asof hy voor die mense gaan staan en uitroep – Sien julle dat God ons gaan terug bring en weer met ons oor gaan begin!  Vertrou julle ook op God!  Glo julle dat God in beheer is van die toekoms! 

Hy het ook al die probleme gesien, maar hy het eerder gekies om sy vertroue op God te plaas en sy toekoms op die beloftes van God te plaas.  Hy maak die betekenis van Hebreërs 11:1 vir die mense prakties – Om te glo is om seker te wees van die dinge waarvoor ons hoop en om oortuig te wees van die onsigbare, selfs al kan ons dit nie sien nie.  Jeremia kies om op die onsigbare God van die toekoms te fokus en nie op sy huidige omstandighede nie.  Kom ons bly ook eerder in pas met God, ongeag wat in ons lewe gebeur.  Ons hoop lê nie net in die verlede nie, maar veral in wat God nog gaan doen.  Mense met hoop is uit pas met dinge van die wêreld, maar in pas met God.