Teks: 2 Korintiërs 2:12-17
Liedere: 547:1,2 513:1,2,3
Paulus praat met gelowiges oor sy probleme in Korinte. Hy is bekommerd oor sekere sake. Hieruit vloei ‘n beskrywing van die krag waaruit hy werk en lewe. Dit bring vir hom groot vreugde om oor die evangelie te preek. Oral waar hy gaan vind hy mense wat swaar kry, seergekry het, hopeloos is en vrees belewe. Dis alles dinge wat hulle lewens vernietig. Dan kom hy met die wonderlike goeie nuus van Jesus Christus. Die Een wat die seer van mense verstaan. Dit bring vir hom groot vreugde om hierdie nuus te kan deel. Hy het die geleentheid om met die mense oor die Een te praat wat die krag het om lewens te kan verander. Hierdie nuus is vir hom so belangrik dat hy dit oor die hele wêreld wil verkondig.
Terwyl hy in Troas was, was daar ‘n wonderlike reaksie. Met het op die markplein na hom gestroom en na hom kom luister. Sy hart is egter seer want hy het nie dieselfde reaksie uit Korinte gehoor nie. Hy is bekommer dat al die goeie werk in Korinte verniet was. Menslik gesproke was sy hart seer en het hy dalk soos ‘n mislukking gevoel. Geestelik raak hy egter bewus van hoe God werk. Hy vergelyk dan God se werk met die aangename geur wat ‘n triomftog bring. Die soldate het na ‘n groot oorwinning deur die strate marsjeer. Die priesters het wierook gebrand en al die mense was in ‘n feestelik luim. Jesus is die aangename deur. Alles gaan oor Jesus. Die boodskap wat hy oor Jesus bring, word soos ‘n aangename geur onder mense versprei. In sy eie oë voel hy dalk nie op die oomblik so suksesvol nie, maar ten spyte daarvan gebruik God hom en word die aangename geur van Jesus se redding steeds versprei. So roep hy dan ook vir ons vandag tot aksie op. Ook ons het die verantwoordelikheid om aan te hou om oor Jesus te praat en so die aangename geur van Jesus se redding na die wêreld te neem. Soms mag dit ook vir ons voel of daar geen reaksie op ons verkondiging is nie en ander kere sien ons dalk ‘n onmiddellike reaksie. Die reaksie van mense mag nooit ons motiveerder wees om te getuig nie, wel net die boodskap oor Jesus wat ons bring. Hou aan om te getuig. Die boodskap oor Jesus is die aangename geur van verlossing vir die wêreld. Jesus se geur versprei deur ons. Hou aan. Hy is altyd aan die werk.