Teks: Judas 1:1-24
Liedere: 271:1,2 139:1,4 179:1,2,3 214:1,2,3 542:1,2
Hierdie kort brief is ‘n afgeskeepte brief in die Bybel. Dit is maar ‘n baie kort briefie. Verder haal die skrywer uit die apokriewe boeke aan en nie vanuit ander Bybelse bronne. Die inhoud van die brief val ook nie lekker op die hoorder se oor nie. Die hele brief handel oor oordeel. Daarom word hierdie brief dalk nie so baie gelees nie. Ons hou mos veel eerder daarvan om van liefde en verdraagsaamheid te praat. Dis nie lekker om te hoor dat ons optrede nie reg is nie.
Hierdie brief is dalk juis relevant vir ons tyd. Ons leef in ‘n tyd waar die aanvalle teen die kerk en die geloof net al feller word. Die kerk en gelowiges is blootgestel aan soveel dinge. Juis daarom moet ons sterk staan en nie self daaraan aandadig wees dat dwaallering in die kerk insypel en vir gelowiges aanvaarbaar word nie.
Wanneer Judas begin met die brief, skryf hy aan die hoorders dat hy baie graag vir hulle oor die wonderlike genade van die Here wou vertel, maar hy is so ontsteld oor die dinge wat besig is om te gebeur, dat hy geen ander keuse het as om die inhoud van die brief te verander nie. Sekere mense tree korrup op en hulle het heeltemal deel van die kerk geword. Wat hy dan basies vir die mense sê is dat daar ‘n vyand is wat probeer om skade in die kerk te veroorsaak. Gelowiges moet daarvan bewus wees en doelbewus daarteen standpunt inneem. Om dit te kan doen, moet gelowiges bewus wees van wat hulle glo en waarvoor hulle staan.
Hy herinner hulle daaraan dat die waarheid in die Skrif te vinde is. Die bron vir die verdediging van die evangelie word in die Woord en in dit wat die apostels vir die mense geleer het, gevind. Die kerk is op die fondamente wat die apostels neergelê het gebou. Jesus Christus is die hoeksteen. Judas herinner ons dat daar net een waarheid is en die kerk moet die kernwaardes van hierdie waarheid beskerm. Die kerk word van buite af aangeval, maar die verval van binne die kerk self, is net so gevaarlik. Daarom moet gelowiges bewakers en beskermers van die waarheid wees. Bly in God se liefde. Groei in die geloof. Bid deur die Heilige Gees. Wag op die koms van Jesus Christus.