Teks: 1 Timoteus 6:17-21
Liedere: 199:1,2,3 241:1,2,3 260:1,2 492:1,2
Hoop gee ‘n mens ‘n rede om te lewe, ‘n rede om op te staan in die oggend. Ongelukkig werk ons planne nie altyd uit nie. Een oproep of gesprek kan alles in ‘n oogwink verander. As ons ons hoop op tydelike dinge bou, is die risiko altyd daar dat dinge nie gaan uitwerk nie. Daarom moet ons eerder ons hoop bou op ‘n onveranderlike sekerheid.
Daar is net een plek of eerder een persoon wat hierdie sekerheid en daarom die ware hoop vir ons kan bied. Net wanneer ons ons toekoms op die Here bou, kan ons verseker wees van daardie sekerheid. In die teks word ons gewaarsku om nie ons hoop op welvaart te bou nie. Dis een van die versoekings van die lewe. Dit maak jou arrogant en die gevaar bestaan altyd dat jy hierdie welvaart kan verloor. Jou waarde kan nooit aan jou prestasies of jou besittings verbind word nie. Dit mag nooit jou identiteit bepaal nie.
Daarom stel Paulus dit baie duidelik dat ons op die dinge van die toekoms moet fokus. Ons moet skatte versamel wat ewigheidswaarde het. Sekerheid en veiligheid word net by die Here gevind. Die vraag is nou natuurlik, hoe doen ‘n mens dit? Ons word geleer dat ons ryk moet wees in goeie dade. Ons moet na geleenthede soek waar ons goed kan doen aan ander mense. Ons moet vrygewig wees en gewillig wees om wat ons het met ander te deel. Net soos wat God goed is vir ons, moet ons leer om goed vir ander mense te wees. So bou ons ‘n fondasie vir die toekoms. Ons maak gereed vir die wederkoms van Jesus en vir die ewige lewe. Om dit reg te kry moet ons vashou aan die waarheid van die evangelie. Ons is bewaarders van dit wat God aan ons toevertrou. Die evangelie is ‘n waardevolle skat wat aan ons toevertrou is. Kom ons bou ons hoop op die Here. Kom ons raak ryk in goeie dade. Kom ons versamel hemelse skatte wat werklik saak maak. Dis die enigste hoop vir nou en vir altyd.