Preekskets 29 September 2024 Ds Jacques – Morele en geestelike chirurgie


Teks:  Markus 9:38-50

Liedere:  202:1,2   510:1-4   268   521:1,2

Almal van ons het al beleef hoe sleg dit is as struikelblokke in jou lewenspad geplaas word.  Dinge wat jou lewe moeilik maak, of mense wat deur hul gedrag struikelblokke in jou lewe veroorsaak.  In hierdie teks sien Johannes ‘n man wat in die naam van Jesus getuig, maar wat nie deel van hulle groep is nie.  Dit ontstel hom en hy gaan na Jesus toe om oor hierdie man te kla.  Volgens hom is hierdie man ‘n struikelblok vir die werk waarmee Jesus besig is, of sal hy ‘n probleem vir hulle word.  Wat baie verrassend is, is dat Johannes nie vir Jesus sê dat hy bekommerd is dat hierdie man dalk ‘n ander doel nastreef as hulle, ‘n ander oortuiging as hulle het, of doelbewus in hul pad staan en hulle werk probeer benadeel nie.  Hy kan glad nie eens ‘n vinger na die werk waarmee hy besig is wys nie.  Die enigste probleem volgens hom is dat hierdie man nie deel van hulle dissipel groep is nie.

Dalk was hy bekommerd dat hierdie man se gewildheid te veel toeneem.  Onthou dat Jesus net voor hierdie gebeure vir die dissipels moes teregwys toe hulle probeer uitvind wie van hulle die belangrikste is.  Hy het deur ‘n kindjie vir hulle geleer dat hulle gesindheid moet verander, dat hulle nederiger moet word.  Dalk is die gedagte van belangrikheid nog in sy kop.

Jesus antwoord egter heeltemal anders wat Johannes verwag.  Jesus gaan maak nie die man stil nie, maar sê vir Johannes dat alle mense wat in Sy naam getuienis lewer deur God in die uitbreiding Sy koninkryk gebruik word en ‘n rol speel.  As Johannes hierdie man wil stil maak, raak hy vir die man ‘n struikelblok.  So staan Johannes in die pad van die uitbreiding van die Koninkryk.  Daarom moet hy sy gesindheid toets.  Jesus sê dan vir hom dat dit vir ‘n mens beter is om eerder geestelike chirurgie in jou lewe toe te pas, as om met alle dele van jou lewe te sit, maar sekere dele veroorsaak skade in God se groter plan.  So moet ons ook leer dat ons deel vorm van ‘n groter geroepe span in diens van God.  Ons weet nie alles nie.  Ander doen ook dit wat van hulle verlang word.  En indien ons agter kom dat ons ook soos ‘n Johannes maak, moet ons ook eerder afsny en verander, as om te dink ons is in alles reg.