Preekskets 06 Oktober 2024 Ds Jacques – Jesus raak een van ons om vir ons te doen wat ons nie vir onsself kon doen nie.


Teks:  Hebreërs 5:5-18

Liedere:  169:1,2  250:1,2,5  258:1,3

Met die skepping gee God vir die mens die opdrag om na Sy handewerk om te sien.  Elke aand wandel God saam met die mens, om te hoor waarmee die mens homself deur die dag besig gehou het.  Daardie besonderse verhouding is egter deur die sondeval verbreek.  Hierna raak dit al moeiliker vir die mens om aan God erkenning te gee vir Sy handewerk en God toe te laat om in die mens se lewe betrokke te wees.  As ons na die verwoesting van die wêreld om ons kyk, besef ons watter gemors ons van die opdrag gemaak het.  Ons mis die doel, om God te verheerlik en na Sy handewerk te kyk, heeltemal.

God plaas ons hier om oor wat Hy geskape het te heers en daarna te kyk, en ook om na mekaar te kyk.  Ons doen regtig baie sleg met hierdie bestuursrol.  Daarom het ons hulp nodig met die proses.  Daar is egter nie enige ander mens wat ons hiermee kan help nie.  Ons sukkel almal ewe veel.  Daarom moet ons hulp van buite kry.  Dis die rede waarom God Sy Seun na ons stuur.  Sy Seun ken ons en verstaan ons.  Hy was van die begin van die skepping af daar.  Wie beter as dan juis God se Seun om ons met hierdie dilemma te kom help.  

Jesus raak een van ons om vir ons te kom doen wat ons nie vir onsself kan doen nie.  God verskaf die oplossing.  Dis Sy meesterplan.  Hy kom leer ons hoe ons moet leef.  Hy kom demonstreer ‘n lewe van gehoorsaamheid aan Sy Vader vir ons.  God se doel word prakties, sigbaar reg voor ons.  Ons verdien om gestraf te word vir ons ongehoorsaamheid, maar Hy kom verlos ons van die straf van die sonde en die dood.  Hy sterf in ons plek en betaal ons skuld volledig.  Net hy kan die dood trotseer en oorwin.  Die globale skuld van die mensdom, en elkeen van ons se persoonlike skuld is deur Hom betaal.  Nou kan ons voor God as vrygekooptes staan.  Ons word deur die Gees gelei en deur die Bybel gerig om gehoorsaam te wees en in diens van God te staan en ons doel, om God te verheerlik en Sy handewerk in stand te hou, uit te voer.  Wat ‘n Verlosser!  Wat ‘n wonderlike God!